Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Koolstofdioksiedvlak bereik kommerwekkende rekord

Die aarde het Saterdag ’n onrusbarende mylpaal bereik toe klimatoloë 421,21 deeltjies per miljoen (dpm) koolstofdioksied (CO2) in die atmosfeer gemeet het.

Die meting is by die Mauna Loa-observatorium in Hawaii gedoen.

Die bewaringsorganisasie Go Green het op Twitter gesê: “Hier­die mylpaal bring die mensdom ál vinniger en vinniger by ’n onbewoonbare, warm kweekhuis-aarde uit. Ons moet optree.

“Dit is die eerste keer in menseheugenis dat die drempel van 420 dpm CO2 oorskry is.”

Ben See, ’n Franse klimaatkundige, het getwiet: “Ons is in ’n gevaarsone van klimaatonsekerheid; behoorlike oorlewing is nie meer seker by 420 dpm nie.

“Onleefbare temperature is nou moontlik, terwyl (onvolhoubare) ekonomiese groei besig is om ons tot 450 dpm teen 2033 te dryf. Sal noodoptrede ooit voorbladnuus maak?” het hy gevra.

Hy het gesê noodoptrede is nou nodig om die heersende ekonomiese en politieke stelsel te verander sodat alle uitlaatgasse tussen 2025 en 2030 gestaak kan word.

“Hierdie is ’n ekologiese ramp wat deur onversetlike, vernietigende ekonomiese groei en die najaag van wins op kort termyn veroorsaak word. Hierdie soort groei heg geen waarde aan die natuur nie, maar buit dit net uit.”

CO2 Earth het op sy webblad gesê op 4 April verlede jaar was die meting 415,60 dpm. Dié drempel is in Mei 2019 bereik.

Volgens die webblad commondreams.org is die eerste meting van CO2 in die atmosfeer aan die einde van 1950 gedoen.

“Toe die nasionale oseaan- en atmosfeeradministrasie (NOAA) in die laat 1950’s instrumente ontwerp en dié meting begin doen het, was die CO2-konsentrasie in die atmosfeer 315 dpm.”

Die webblad het die nuwe meting as “onrusbarend” bestempel en die styging in die CO2 in die atmos­feer toegeskryf aan kapitalisme wat aangedryf word deur die ontginning en verbranding van fossielbrandstowwe.

“Dié kapitalisme het sedert die 1970’s groter momentum gekry.”

The Washington Post berig al word die gebruik van fossielbrandstowwe oornag gestaak, sal die planeet vir nog baie jare in die toekoms warmer word.

Zeke Hausfather, ’n klimaatwetenskaplike aan die Break­through-instituut in Kalifornië, het aan die koerant gesê: “Die tempo waarteen die planeet verhit is ’n gevolg van al die fossielbrandstowwe wat sedert die nywerheidsrevolusie verbrand is.”

Hy het gesê dit (die styging in die konsentrasie CO2) is dus nie net die gevolg van die afgelope jaar se verbranding van olie, gas en steenkool nie.

Volgens die koerant is die styging in CO2 nie die enigste kweekhuisgasse wat kommerwekkend is nie. Die konsentrasies metaan en swaelverbindings het ook gestyg.

Volgens die Environmental Defense Fund is metaan 84 keer kragtiger as CO2. Metaan bly egter nie so lank in die atmosfeer soos CO2 nie, maar dit neem hitte baie vinniger op.

Meer oor:  Koolstofdioksied  |  Aarde  |  Rekord  |  Mylpaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.