Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Koolstoftaks ‘sal R300 m. per jaar kos’

As die regering ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) dwing om van 1 Junie af koolstofbelasting te betaal, sal dit hom sowat R300 miljoen per jaar uit die sak jaag.

Kobus Verster, uitvoerende hoof van ArcelorMittal Suid-Afrika. Foto: Elise Tempelhoff

“Dít is meer as ons totale wins van verlede jaar,” het Kobus Verster, uitvoerende hoof van die staalreus, Donderdag gesê kort ná Amsa se algemene jaarvergadering, wat by sy aanleg in Vanderbijlpark gehou is.

Verster sê Amsa sukkel ook om te keer dat die gifstof swaeldioksied (SO2) by sy aanleg in die atmosfeer beland.

“Ons het onlangs R300 miljoen bestee aan tegnologie wat misluk het.

“Die huidige Duitse tegnologie wat wel suksesvol blyk te wees, kos sowat R1 miljard om te installeer.”

Volgens Verster is klimaatsverandering vir Amsa ’n baie belangrike kwessie en in dié sta­dium probeer die maatskappy sy bes om op ’n omgewingsvriendelike manier staal te vervaardig.

Intussen het sowat 40 aktiviste van die Vaal Environmental Justice Alliance (Veja), groundWork en die Sentrum vir Omgewingsregte (CER) buite die aanleg plakkate omhoog gehou om Amsa se aandeelhouers daaraan te herinner dat dié staalvervaardiger verantwoordelik is vir ernstige lug-, water- en grondbesoedeling.

Verteenwoordigers van die CER sê Amsa weet reeds sedert 2010 dat hy sy lisensievoorwaardes vir luggehalte (wat gemeet word in terme van CO2) oorskry.

Die huidige Duitse tegnologie wat wel suksesvol blyk te wees, kos sowat R1 miljard om te installeer.

“Waarom is niks nog daaraan gedoen nie?

“Amsa het in Februarie by die departement van omgewingsake aansoek gedoen om verdere uitstel om sy kweekhuisgasvrystelling te beperk,” sê hulle.

Luidens ’n inligtingstuk wat die CER, ’n groep omgewings- regs­lui, op die jaarvergadering uitgedeel het, is Amsa een van die tien grootste lugbesoedelaars in die land.

Amsa laat byvoorbeeld stofdeeltjies, stikstofoksied en metaan in die atmosfeer vry. “Dit is kragtige kweekhuisgasse wat klimaatsverandering aanhelp,” sê ’n verteenwoordiger van die CER.

Twee van die CER se omgewingsprokureurs het die jaarvergadering bygewoon.

Sowat 40 omgewingsaktiviste het Donderdag voor Amsa se aanleg plakkate omhoog gehou om aandeelhouers daaraan te herinner dat die staal-vervaardiger ’n groot besoedelaar is. Foto: Mduduzi Tshabalala

Amsa se grootste staalaanleg is in die Vaaldriehoek en die CER wys daarop dat die departement van omgewingsake dié streek jare gelede al tot priori- teitsgebied vir lugbesoedeling verklaar het.

“Gemeenskappe wat hier woon, dra die las van ernstige lugbesoedeling.

“Dié gemeenskappe kla al jare oor hul gesondheid, maar niks verbeter nie,” lui die inligtingstuk.

Volgens Verster verskaf Amsa werk aan sowat 12 500 mense in die Vaaldriehoek.

“Ons het uitdagings, maar werk daaraan.”

Amsa het ’n geldige waterlisensie en die enigste kere wat hy nie die vereistes nakom nie, is wanneer Eskom beurtkrag instel, sê hy.

Verster erken die departement van omgewingsake dreig Amsa met strafregtelike klagte, maar hy sê hy “speel oop kaarte” met die departement.

“Ons doen regtig ons bes en ons het baie planne,” sê Verster.

Hy sê hy hoop Amsa kan uitstel kry met die betaling van koolstofbelasting totdat hy sy huis heeltemal in orde gekry het.

Hy meen ook die regering moet ’n “regverdige” bedeling skep en ook koolstofbelasting hef op diegene wat goedkoop staal in die land stort.

  • Volgens Verster is daar baie groepe – onder meer die mynhuise – wat druk op die regering uitoefen om van sy plan af te sien om binnekort die koolstofbelasting op groot nywerhede te hef. Koolstofbelasting is ’n instrument wat die regering, as ondertekenaar van die Parys-ooreenkoms oor klimaatsverandering, ingestel het om maatskappye te dwing om hul uitlaatgasse tot die minimum te beperk.
Meer oor:  Koolstoftaks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.