Die kraaie het die laaste paar dae behoorlik gegaap van die hitte in groot dele van die land en dit lyk of verligting eers teen Woensdag kan kom wanneer reën en donderbuie verwag word.
Kumsa Masizana, voorspeller vir die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê dit sal van Woensdag aansienlik koeler wees. Tot Dinsdag sal die hittegolf voortduur met temperature bo 25 °C.
In Gauteng word ligte reën en donderbuie van Woensdag af voorspel. Temperature onder 25 °C kan verwag word. Dinsdag sal die kwik in Pretoria tot 36 °C styg en in Johannesburg tot 34 °C.
Die weerdiens waarsku teen donderbuie wat in die suidwestelike dele van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap kan voorkom. Durban kan Dinsdag maksimum temperature van 27 °C verwag en Pietermaritzburg 29 °C. Van Woensdag af sal dit koeler word met reën wat ook in die provinsie verwag word.
Wat Mpumalanga betref, gaan dit Dinsdag baie warm wees in Nelspruit waar die temperatuur tot 37 °C kan styg. Van Woensdag sal dit ook daar koeler word en reën is ’n moontlikheid.
Volgens die weerdiens is daar ’n 30%-kans vir reën in Noordwes. Later die week sal temperature tot onder 30 °C in die provinsie daal gepaardgaande met reën en donderbuie.
Mafikeng gaan Dinsdag warm wees met temperature rondom 35 °C.
Reën word ook vir dele van Limpopo voorspel. Die provinsie sal gedeeltelik bewolk en warm wees.
In Polokwane sal die kwik Dinsdag tot 34 °C styg.