Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Kragskepe aan die Weskus: ‘Foute’ in impakstudie

Die departement van minerale bronne en energie se planne om noodkrag vanaf Turkse kragskepe te kry het nog ’n terugslag beleef toe die departement van omgewingsake, visserye en bosbou Karpowership se omgewingsimpakproses vir een van die projekte wat hy vir Suid-Afrika beplan, opgeskort het.

Dit volg nadat die omgewingsorganisasie The Green Connection ’n klag by die departement van omgewingsake, visserye en bosbou ingedien het oor ’n “onvolledige omgewingsimpakverslag” wat Karpowership vir sy beoogde Saldanha-projek ingedien het.

Luidens ’n brief wat Thabile San­gweni, hoofdirekteur van geïntegreerde omgewingsgoedkeurings by die departement, aan Mehmet Katmer, sakeontwikkelingsdirekteur van Karpowership, geskryf het, het dié maatskappy tot 30 Junie kans om The Green Connection se bewerings te weerlê.

Sangweni skryf die omgewingskonsultant Hantie Plomp van die konsultasiemaatskappy Triplo4 het op 26 April die omgewingsimpakstudie ingedien om goedgekeur te word. Op 31 Mei het die departement The Green Connection se klagte ontvang.

Een van Karpowership se kragskepe. Foto: Karpowership

Liziwe McDaid, strategiese analis by The Green Connection, het gister gesê die nieregeringsorganisasie se regspan het die omgewingsimpakstudie vir Karpowership se Saldanha-projek bestudeer en het ’n reeks “fatale foute” daarin opgemerk.

“Ons regspan se gevolgtrekking was dat dié studie uiters gebrekkig is. Ons kon geen studie in die finale omgewingsimpakverslag opspoor wat gedoen is oor die impak van geraas op die mariene omgewing nie.”

Volgens haar lê die studie byvoorbeeld meer klem op die sogenaamde ekonomiese voordele van die kragskip as die impak wat dit op die mariene omgewing en gemeenskappe aan die kus gaan hê.

“Dit is ’n fatale fout. Dink net: om vir 20 jaar dag en nag blootgestel te word aan die geraas van die kragskip. En ons weet byvoorbeeld nie wat die impak van dié geraas op die vissersgemeenskap se enigste bron van inkomste – hul vis – sal wees nie. Ons vermoed die vis gaan bloot verdwyn deur weg te beweeg van die geraas af. Die vissersgemeenskap sal die meeste daaronder ly. Langebaan se sensitiewe ekostelsel is ’n paar kilometer van Saldanha af en die geraas sal hierdie gebied ook raak. Die Langebaan-strandmeer is bekend as ’n broeiplek vir baie seldsame vis weens die nutriëntryke Benguela-seestroom,” het McDaid gesê.

“Selfs die inwoners van Saldanha sal vir 24 uur vir die volgende 20 jaar aan die lawaai van ’n kragskip blootgestel word.”

Sangweni skryf voorts die departement meen die belanghebbendes se klagtes berus op die feit dat die omgewingskonsultant nagelaat het om ’n spesialisstudie te laat doen oor die impak van geraas op die mariene omgewing.

Volgens Sangweni is dit ’n noodsaaklik onderdeel van die studie. Weens die afwesigheid daarvan kan die departement nie ingevolge wetgewing ’n besluit oor die omgewingsimpakstudie neem nie.

Kia Johnson, adjunkwoordvoerder van Karpowership, het aan Weslander gesê dié maatskappy meen hy het ’n baie volledige omgewingsimpakstudie by die departement ingedien en dat The Green Connection se “klagtes en bekommernisse” ongegrond is.

Johnson het aan dié koerant gesê Karpowership is tans hard aan die werk om die spertyd vir die afhandeling van alle uitstaande sake van 31 Julie te haal sodat die ooreenkoms tussen die departement van minerale bronne en energie en Karpowership onderteken kan word.

Nog ’n struikelblok wat Karpowership sal moet oorkom, is ’n hofgeding tussen hom en DNG Power Holdings. DNG het die tender vir kragvoorsiening teen Karpowerships verloor.

DNG Power Holdings beweer in hofstukke Karpowership het die tender op ‘n “korrupte wyse” ontvang.

  • Die saak sal in Julie aangehoor word. Karpowerships se kontrak met Suid-Afrika sal na raming sowat R225 miljard beloop.

Dir maatskappy beplan soortgelyke skepe wat krag deur middel van vloeibare gas gaan opwerk ook by Richardsbaai en Coega. Karpowerships wil 1 220MW krag aan Suid-Afrika se netwerk lewer.

Meer oor:  Karpowership
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.