Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Kruger se 1ste vroue-hoofveldwagter ‘wil niks anders doen’

Sonder toegewyde mense om haar sal selfs haar beste pogings om ons renosters te red verniet wees, sê die Krugerwildtuin se eerste vroue-hoofveldwagter, Cathy Dreyer, wat in Mei die leisels in die land se grootste natuurreservaat oorneem. Sy het met Eugenie Gregan gesels.

As student in die Addo-olifant Nasionale Park het sy aangebied om na die swartrenosters in die bomas te kyk. Verwardes, siekes, beseerdes – wat óf behandel óf verskuif moes word.

Dan lees die jong Cathy Dreyer vir dié reusediere boeke, veral biografieë wat sy self geniet. Met Chickenhawk van Robert Mason, oor ’n helikoptervlieënier se ervarings tydens die Viëtnam-oorlog, het sy deur die jare talle renosters gesus.

Cathy Dreyer, die Krugerwildtuin se eerste vrouehoofveldwagter, veg al twee dekades in die stryd teen renosterstropers. Foto: Verskaf

Dit was liefde met die eerste oogopslag toe sy die eerste keer met ’n swartrenoster te doen gekry het. En die renosters het haar net so vinnig liefgekry. Binne ’n kwessie van 52 uur kon sy ’n band met ’n renoster vorm, só besonders dat sy later die “renosterfluisteraar” gedoop is.

“Gewoonlik sou daar ook ’n radio speel sodat hulle aan mensgeluide gewoond raak. Maar jy móét met hulle praat. Hulle moet weet wie jy is. Dis ongelooflik, binne ’n week ken hulle jou stem en squeak van opgewondenheid as hulle jou sien,” sê sy.

Dreyer het gou besef as die renosters háár bo die ander veldwagters verkies, kan sy saamreis na al die plekke waarheen hulle verskuif word – van die Okavango-delta in Botswana tot Malawi.

Haar talent het haar ’n indrukwekkende CV help opbou. 2016: Die eerste Suid-Afrikaner en die eerste vrou wat sir David Attenborough se Tusk-bewaringsprys ontvang. 2019: Die eerste vrouehoof van natuurbewaring van die Addo-olifantpark. En nou: Die eerste vroue-hoofveldwagter van die Krugerwildtuin.

Indrukwekkende prestasies vir die middelkind van ’n skrynwerker van die Kaapse woonbuurt Grassy Park, wat nie in ’n gesin van natuurliefhebbers grootgeword het nie.

Gelukkig het haar oom, Fred Coker, wat ook haar biologie-onderwyser by die South Peninsula High School was, haar gereeld gevat om in Tafelberg te gaan stap.

Ná skool het sy ’n jaar lank as vrywilliger in die Tafelberg Nasionale Park en Silwermyn-natuurreservaat gewerk en toe natuurbewaring aan die Kaapse Technikon (nou die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie) studeer.

Sy het in die Addo-olifantpark in die Oos-Kaap beland toe sy “sover as moontlik van Kaapstad af” met haar ervaringsopleiding begin het.

Sanparke het egter gou besef sy het ’n slag met renosters en haar by sy wildvangspan betrek.

“Dit was destyds beslis ’n loopbaan wat deur mans oorheers word. Nie dat vroue dit nié kon doen nie, maar daar is fisieke beperkinge en die meeste van die tyd kampeer jy of slaap jy maar waar jy plek kry.

“Ek is van nature hardkoppig, so toe ek die werk kry, het ek dadelik my rybewys vir ’n vragmotor gekry,” sê sy.

“Ek was die enigste vrou en moes hard werk om myself te bewys, maar dit was ’n voorreg en ek het saam met ’n ongelooflike groep gewerk. Ek het my beste gelewer en nadat mense my leer ken het, het ek nooit gevoel die mans sien neer op my nie.”

Die wildvangspan se basis was in Kimberley, waaroor Dreyer aanvanklik skepties was.

En daar is nie baie bome in die Oos-Kaap nie! Maar jy word net gejaag as jy iets verkeerd doen, soos om nie na die wind op te let nie of te raas.

“Almal het vir my gesê jy huil as jy in Kimberley aankom en jy huil as jy moet weggaan, wat baie waar is. Dis ’n spesiale plek.”

Sy was 13 jaar lank deel van die span wat diere oor die hele Afrika heen verskuif het. Nadat sy so lank uit ’n tas geleef het, het sy as bewaringsbestuurder by die Groot-Visrivierreservaat in die Oos-Kaap begin.

Ná vyf jaar het sy dié permanente pos gelos vir ’n kontrakpos in die Krugerwildtuin, haar eerste kans om in die land se grootste wildreservaat met een van die grootste renosterbevolkings te werk. Spesifiek met swartrenosters, die witrenoster se befoeterde, skaarser boetie.

“Alles aan swartrenosters maak hulle moeilik om te bestuur, wat my seker na hulle aangetrek het. Elkeen het ’n unieke persoonlikheid en unieke gedrag. Hulle loop meestal alleen en is ongelooflik intelligent, aggressief en territoriaal,” sê sy.

Dít het sy vinnig geleer toe sy aan die begin van haar loopbaan gereeld deur ’n renoster in ’n boom opgejaag is.

“En daar is nie baie bome in die Oos-Kaap nie! Maar jy word net gejaag as jy iets verkeerd doen, soos om nie na die wind op te let nie of te raas.”

Vir haar is renosters, buffels of olifante nie die gevaarlikste spesies in die bos nie, maar eerder die stropers.

In weerwil van die afgelope paar jaar se goeie werk teen renosterstropery, glo sy dié diere gaan nog lank in gevaar wees – selfs al word dié misdaad uitgeroei.

“Die skade is gedoen. As ’n renoster gestroop word, veral ’n renosterkoei, verloor jy nie net een renoster nie. Sy is dikwels dragtig en sou deur haar lewe talle kalfies gehad het.”

Dreyer weet ’n groot taak wag in die Krugerwildtuin, waar die stryd teen die stropers amper ál die hulpbronne opeis.

“Die grootste uitdaging gaan wees om die stryd teen natuurlewe-misdaad met ander bewaringskwessies te balanseer. En om die werkers en hul welstand te bestuur,” sê sy.

“Mense onderskat die sielkundige invloed as jy heeltyd aan renosters wat gestroop is of renosterwesies blootgestel word. Dit verander jou as jy sien wat die ergste is wat mense kan doen.

“Daar is baie kritiek dat ons nie genoeg doen nie, maar mense weet nie wat hierdie ouens opoffer nie. Almal se gesinne trek aan die korste ent.”

Sy het self “nie veel van ’n lewe” buite haar werk nie, hoewel die skuif na die Krugerwildtuin darem beteken sy sal nader aan haar jare lange kêrel wees.

“Ek is nie getroud nie en het nie kinders nie, wat dit vir my makliker maak om hierdie kwessies aan te pak. Ek het baie vir my loopbaan opgeoffer en ek is nie spyt daaroor nie. Daar was min tyd vir enigiets anders behalwe om te doen waarvoor ek lief is.”

Vroegoggend as die voëls kwetter en die leeus brul, en sy sien hoe ’n nuwe dag begin, onthou sy hoekom sy hierdie werk gekies het.

“Dit is ’n absolute voorreg om in nasionale parke te bly. Jy vergeet dit, want dis heeltyd go-go-go, maar tyd in die veld help jou onthou hoekom jy 20 jaar gelede natuurbewaring gekies het.”

As meer mense die natuurlewe deur veldwagters se oë sien, sal baie bewaringskwessies opgelos word, glo sy.

“Dit sou ongelooflik wees as almal diere nie net sien as iets wat vir hulle finansiële waarde het nie. Hulle is nie net ’n horing of ’n tand of ’n bek of skubbe nie. Opvoeding moet van jongs af begin.

“Alles in die natuur is beperk en dit wat ons nie nóú beskerm nie, kan moontlik nog in ons generasie nie meer bestaan nie,” sê sy.

Ken Maggs, haar voorganger in die Krugerwildtuin, tree ná vier dekades by Sanparke af. Hoewel Dreyer op 43-jarige ouderdom nog nie aan só ’n stap dink nie, weet sy reeds wat sy eendag wil nalaat.

“My nalatenskap moet wees dat alles voortgaan asof ek nie eens weg is nie. Dit sal beteken ek het die regte dinge in plek gesit. Ek wil nooit by ’n plek weggaan en alles val uitmekaar nie, dan het ek nie gedoen wat ek wou nie.”

Sy beskou haarself nie as ’n groot feminis nie en sê dis bloot weens harde werk dat die “eerste vrou”-titel haar oral gevolg het.

“My werk is my lewe, dis al wat ek doen. Ek dink vroue lê dikwels self vir hulle beperkinge op. Daar is so min loopbane wat ’n vrou nie kan beoefen nie.

“Ons moet wegbeweeg van daardie ingesteldheid. Ek sê nog altyd die werk in die bomas is vir vroue, want ons het baie meer geduld,” sê sy.

“Die geleenthede is daar en vroue het bewys hulle kan in enige loopbaan uitblink en in sommige selfs beter vaar, net oor wie en wat hulle is.”

Daarvan kan sy getuig.

Meer oor:  Krugerwildtuin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.