Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Krugerwildtuin tree voorkomend op teen indringer-kewer

Die stompkopboorder-kewer kom in ons tuine voor en daar is rede tot kommer, sê Navashni Govender, senior hoofbestuurder van bewaring in die Krugerwildtuin, oor dié indringerkewer wat in 2017 die eerste keer in die KwaZulu-Natalse Botaniese Tuin in Pietermaritzburg opgemerk is.

Een van die lokvalle vir die stompkopboorder-kewer in die Krugerwildtuin. Foto: Verskaf

Die stompkopboorder-kewer, 2 mm lank en afkomstig van Suidoos-Asië, is al op onder meer avokado- en pekanneutbome in Suid-Afrika gevind, is vroeër berig.

Hoewel die kewer nie in die Krugerwildtuin opgemerk is nie, tree die wildtuin liefs proaktief op en het nou ’n netwerk van vang- en moniteringsterreine in die wildtuin opgerig, sê Govender.

Die lokvalle is in samewerking met Biosecurity Africa by al die hekke en ruskampe opgerig. Die lokvalle sal maandeliks onderhou word en die doel daarvan is om die kewer betyds op te spoor.

Die Krugerwildtuin se benadering tot die kewer is drievoudig, sê Govender.

“Nommer een is monitering en vroeë opsporing, nommer twee is die opleiding van personeel en plaaslike gemeenskappe (om die kewer te kan identifiseer), en nommer drie is die opvoeding en bewusmaking van die algemene publiek oor hierdie kewer en die rol wat vuurmaakhout in die verspreiding daarvan kan speel.”

Sy sê dit is belangrik om daarop te let dat die kewer self nie die boom doodmaak nie. “Die kewer dra verskillende soorte swamme, waarvan een Fusarium euwallaceae is. Die kewer boor deur die boombas in die hout in en ent die swam in die lewende hout in.

Die swam groei op die kewer en dien as voedsel vir die larwes van die kewer.

Die skade aan die boom kom voor wanneer die vaatstelsel van die boom geblokkeer word en faal, wat veroorsaak dat die blare verdun, verlep en bruin aan die ente van die takke word. Uiteindelik sal die tak en die hele boom vrek. In sy oorspronklike omgewing in Suidoos-Asië veroorsaak die kewer en die swam nie ernstige skade nie, omdat die boomsoorte daar al weerstand teen die swamme ontwikkel het,” sê Govender.

Vroeër is berig die simptome van ’n besmette boom verskil van boomspesie tot boomspesie: Van klein gaatjies met fyn saagsels tot wit, poeieragtige kolle of vlekke, of druppende hars op die bas wat die gate van die kewers omring. Op sommige bome is daar ook klein, opgehewe letsels op die bas wat soos haelgeweerletsels lyk.

“As mense vermoed dat die kewer in hul bome voorkom, moet hulle dit aanmeld. Let ook daarop dat daar baie inheemse houtboorder-spesies in Suid-Afrika is,” sê Govender.

Die stompkopboorder-kewer. Foto: Samantha Bush

Wat is haar raad?

“Moenie vuurmaakhout oor grense of vanaf besmette gebiede vervoer nie, daarom moedig ons die publiek aan om dit te ‘brand waar jy dit koop’ of te ‘koop waar jy dit brand’.”

Indien mense vermoed die stompkopboorder-kewer kom in hul tuin voor, kan dit per e-pos na diagnostic.clinic@fabi.up.ac.za aangemeld word. Vir meer inligting, besoek www.fabinet.up.ac.za/pshb.

Meer oor:  Krugerwildtuin  |  Pietermaritzburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.