Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Kundiges gaan help by strandmeer
’n Dooie vis lê in die Umhlanga-strandmeer nadat giftige afloopwater vanaf die United Phoshorus Limited-pakhuis vir landbouchemika­lieë in Cornubia in die strandmeer beland en ’n omgewingsramp veroorsaak het. Foto’s: ISABEL VENTER

Barbara Creecy, minister van visserye, bosbou en omgewing­sake, het  haar “diepe kommer” uitgespreek oor die omgewingsramp in Cornubia by Umhlanga in KwaZulu-Natal.

Creecy het in ’n verklaring gesê haar departement het nou ook betrokke geraak by die opruiming van die besoedelde riviere, strandmere, strand en see tussen die Umhlanga- en Umdlotirivier.

Creecy het gesê sy is “diep bekommerd” oor die lugbesoedeling, asook die besoedeling van die riviere en die akwatiese lewe.

Die ramp het ontstaan nadat oproermakers die landbouchemi­ka­lieë-pakhuis van United Phosphorus Limited (UPL) verlede Maandag met petrolbomme bestook het. Dit het in vlamme uitgebars.

Die vlamme by die pakhuis is geblus, maar die puin het gister steeds gesmeul.

Creecy het gesê Ravi Pillay, LUR vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake, het die nasionale departement se hulp met die skoonmaak- en herstelproses gevra.

“Ons het ’n span kundiges na KwaZulu-Natal gestuur om te help met die skoonmaakproses,” het sy gesê.

Creecy het gesê sy is bewus daarvan dat pes-, onkruid- en insekdoders onder meer in die pakhuis geberg is.

’n Reuse-skoonmaakopera-sie is aan die gang by die Umhlanga- en Umdloti-strandmere en op die strand tussen dié twee riviere. Lede van die chemiese skoonmaakmaatskappy SpillTec is besig met die herstel van die omgewing.

Die span kundiges bestaan uit akwatiese spesialiste, epidemioloë, wetstoepassers van die departement se afdelings vir afval en besoedeling, asook oseaan- en kusbestuur.

Creecy het gesê die departement se kundiges sal saam met die ander owerhede en kundiges van UPL werk wat reeds op die toneel is.

Volgens UPL het dié Indiese maatskappy die “ultramoderne” pakhuis in April vanjaar in gebruik geneem. UPL se hoofkantoor is in Mumbai.

Dave Bryant, die DA se woordvoerder oor omgewingsake, het in ’n verklaring gesê ’n afvaardiging van die DA het die rampgebied eergister besoek.

Volgens die DA-afvaardiging is die Umhlanga-strandmeer “dood”.

Dié standmeer onderhou nie net die mariene lewe in die gebied nie, maar ook die inheemse woud.

Bryant het gesê die DA dring daarop aan om te weet waarom toegelaat is dat dié pakhuis “gevaarlike chemikalieë” so naby ’n biosfeer berg.

Die DA dring nou daarop aan om te weet of ’n omgewingsimpakstudie vir die pakhuis gedoen is en of ’n behoorlike oorlegplegingsproses gevolg is.

Bryant het gesê die DA wil ook weet of veiligheidsplanne in die omgewingsimpakproses ingesluit is. “As die omgewingsimpakproses gevolg is, dring ons daarop aan om te weet wie dit gelei het.”

Bryant het daarop gewys dat hoewel die eThekwini- plaaslike owerheid aangekondig het die strande is gesluit, lyk dit of min mense daarvan bewus is. Met die DA se besoek het heelwat mense met hul honde op die strand geloop.

  • Intussen het die eThekwini- plaaslike owerheid ’n beroep op mense gedoen om nie die vleisprodukte (rooivleis en hoender) te eet wat tydens die plundertogte by die Hammarsdale-koelkamers gesteel is nie.

Die metro het gesê die vleis is moontlik giftig omdat die korrekte prosedure om dit te berg en te vervoer nie gevolg is nie. Dit is moontlik aan hitte blootgestel en het giftig geraak.

Mense is ook gevra om nie die vleis te begrawe nie omdat dit ondergrondse waterbronne kan besoedel.

Meer oor:  Barbara Creecy  |  Omgewingsramp  |  Cornubia
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.