Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Kwagga maak haarself skaapwagter

Drie jaar gelede het ’n jong bergkwagga doodluiters met die Soutrivier tussen Protem en Bredasdorp in die Overberg opgestap, by die plaas Vlakkloof ingestap en haarself as skaapwagter van ’n trop van 300 ooie aangestel.

Donkie, die bergkwagga, lei haar trop na nuwe weiveld op Vlakkloof. Foto: Rian Fourie

Daniel Giliomee, Vlakkloof se eienaar, sê die dier het vermoedelik van die De Hoop-natuurreservaat oos van Bredasdorp gekom, maar tot nou toe het geen natuurbewaringsbeampte of hingste haar kom soek nie.

Giliomee boer kommersieel met Dohne-skape (bekend om hul wol), gars en koring tussen Protem en Bredasdorp. Hy sê die plaasmense noem die merrie “Donkie” terwyl hulle nog aan ’n gepaste naam dink.

Giliomee sê Donkie het gedurig teen die draadheining langs die R319 geparadeer, tot groot vermaak van motoriste wat stilgehou het om foto’s te neem.

Hy reken Donkie is die mees gefotografeerde bergkwagga in die land. Die laaste fotograwe was twee Duitse meisies wat geklee in bikini’s in hul Golf hier opgedaag het en selfies saam met Donkie geneem het. “Jy kan dit nie glo nie. Sy is regtig pragtig.”

Donkie is intussen ’n ent van die heining af weggeskuif sodat sy kan fokus op haar werk, wat sy blêddie goed doen, sê hy.

‘Mensdom, sy is baie spesiaal.’

Met skeertyd is Donkie “baie streng”. Sy deel self eers die trop in twee helftes en stuur hulle om geskeer te word. Wanneer die eerste skape klaar geskeer is, stuur sy die ander klomp.

Giliomee het dit al oorweeg om een van sy neef se twee hingste na Vlakkloof te bring sodat Donkie gedek kan word.

Dié sê toe dat bergkwaggas glo nie aanteel as hulle alleen is nie, sy moet in ’n trop wees.

Hy sê daar is ’n duidelike afname in veeverliese op Vlakkloof sedert Donkie se aankoms. Dit lyk of rooikat se kind maar sku is vir die gestreepte skaapwagter.

“Ek weet nie of Donkie nog besef sy is ’n bergkwagga nie. Ek dink sy reken sy is ’n skaap!” lag Gilomee.

“Ek besef sy behoort nie aan my nie, maar aan die natuur. Mensdom, maar sy is baie spesiaal. So pragtig, maar ook vol fiemies. Sy eet nie enige soort kos nie.”

Donkie het intussen ook in Vlakkloof se bemarkingsvideo vir die Dohne-skaapveiling verskyn, fier en regop tussen haar skaaptrop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.