Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Kweekhuis-aarde’ ons voorland

’n Kweekhuis-aarde” is heel moontlik bewoners van dié planeet se voorland, waarsku ’n span internasionale wetenskaplikes in ’n nuwe studie.

Hulle voorspel dat al word al die koolstofdioksied CO2 wat tans in die atmosfeer gepomp word ingevolge die Parys-klimaatooreenkoms ingeperk, sal dit nie genoeg wees om ’n “kweekhuis-aarde” te voorkom nie.

Luidens hul studie, “Trajectories of the Earth System in the Anthropocene”, sal dit baie moeilik wees om die gemiddelde temperatuurstyging tussen 1,5 °C en 2 °C te hou.

Die studie is vandeesweek in die vaktydskrif PNAS(Proceedings of the National Academy of Sciences) gepubliseer. Die wetenskaplikes sê sodra die aarde in die “kweekhuisfase” inbeweeg, sal die temperatuurstyging konstant bly op tussen 4 °C en 5 °C. As gevolg van die yskappe en gletsers wat smelt, sal die seevlak 60 meter hoër as vandag wees.

Die outeurs doen daarom ’n beroep op beleidmakers om “so gou as moontlik” na ’n koolstofneutrale wêreldekonomie te beweeg.

Die studie kom op ’n tyd wat Europa intense hittegolwe ervaar, brande in Kalifornië en die Arktiese gebied van Swede uitgebreek het en Australië in die wurggreep van een van die ergste droogtes in menseheugenis is.

Prof. Will Steffen, chemikus aan die Nasionale Universiteit van Australië en navorsingsleier van die studie, het in ’n verklaring op ScienceDaily se webtuiste gesê: “Die vrystelling van kweekhuisgasse deur mense is nie die enigste faktor wat die temperatuur op aarde bepaal nie. Ons studie wys sodra ’n temperatuurstyging van meer as 2 °C bereik is, tree ander aardprosesse in werking. Daar word dikwels daarna verwys as snellers wat verdere verwarming tot gevolg het.”

Steffen, ook verbonde aan die Stockholm Resilience Centre (SRC), het gesê daar is nou ’n “laaste” geleentheid vir die mens om sy handelinge drasties “om te keer” van een van uitbuiting tot een van die bewaring van die aardstelsel.

Die globale gemiddelde temperatuur is tans 1 °C hoër as wat voor die Nywerheidsrevolusie gemeet is. Die temperatuur styg elke dekade met 0,17 °C.

Die outeurs het na tien natuurlike snellers gekyk wat tot onkeerbare klimaatsverandering kan lei sodra die temperatuur met net “ ’n fraksie” hoër as 2 °C styg.

Hierdie snellers kan binne oomblikke van “ ’n vriend” in “ ’n vyand” verander. Steffen sê dit beteken dat ’n koolstofabsorbeerder (soos die see en woude) kan verander in een wat koolstof vrystel.

As die snellers in werking tree, sal die ysgrond (in die Arktiese gebied) en die seebodem teen ’n ongekende tempo metaan in die atmosfeer vrystel. Metaan, ’n kweekhuisgas, is 23 keer kragtiger as CO2. Dit sal tot gevolg hê dat die Amasone-woud, asook Arktiese woude stelselmatig doodgaan. Die dryfys in die Noordpool sal ook smelt, so ook die Antarktiese ysbanke.

Johan Rockström, uitvoerende direkteur van die SRC, het gesê hierdie snellers kan soos domino’s val. “Sodra die een val, stamp dit die ander ook om. Sekere plekke op aarde sal heeltemal onbewoonbaar raak sodra die aarde in ’n kweekhuis verander.”

Prof. Hans Joachim Schellnhuber, direkteur van die Potsdam-instituut vir navorsing oor die impak van klimaatsverandering, het gesê in die verslag spel die navorsers uit hoe kweekhuisgasse sedert die nywerheidsomwenteling in die vroeë 1800’s begin het om die aarde se stelsels uit balans te dwing.

Dit het tot gevolg gehad dat die aardstelsels heeltemal anders begin funksioneer het. Dié proses is steeds aan die gang, sê die wetenskaplikes.

Dit het tot gevolg gehad dat die aardstelsels heeltemal anders begin funksioneer het. Dié proses is steeds aan die gang, sê die wetenskaplikes.

Die outeurs van die verslag sê versnelde, positiewe menslike aksie is nou nodig soos om woude (nie plantasies nie) aan te plant, landbougrond behoorlik te bestuur, biodiversiteit te beskerm en tegnologie te ontwikkel om CO2 uit die atmosfeer te verwyder. Die CO2 wat só uit die atmosfeer verwyder word, moet diep onder die grond ingepomp word, meen die outeurs.

Hulle beklemtoon dat reuse- sosiale veranderinge binne die volgende twee tot drie dekades sal moet plaasvind as die mens ’n “gestabiliseerde aarde” wil hê.

Die navorsers sê in hul slotopmerking hul volgende projek is om vas te stel of ’n temperatuurstyging van 2 °C nie ook “onkeerbare klimaatsverandering” tot gevolg gaan hê nie.

Wat die navorsers nog uitlig:

*As die temperatuur elders met 4 tot 5 °C styg, sal dit in die pole met tot 10 °C styg.

*Positiewe tekens is dat vroue algaande bemagtig word om geboortebeperking toe te pas.

*Selfs ’n “gestabiliseerde aarde” sal warmer wees as enige tyd in die mens se geskiedenis.

*Mense sal geweldig aanpasbaar moet raak en hulle voorberei op massiewe veranderinge wat hul lewenswyse en verbruikersgewoontes betref.

Ingevolge die Parys-ooreenkoms het die 179 ondertekenaars onderneem om die kweekhuisgasse wat hulle in die atmosfeer vrylaat te verminder sodat die gemiddelde temperatuurstyging van die aarde (soos wat dit voor die nywerheidsomwenteling was) nie meer as 2 °C sal wees nie. Hulle het hulle boonop daartoe verbind om eerder te mik vir ’n styging van 1,5 °C weens onsekerheid oor die gevolge van ’n temperatuurstyging tot 2 °C. Temperature wat voor die nywerheidsomwenteling gemeet is, word as die maatstaf van die meting beskou.

Meer oor:  Will Steffen  |  Kweekhuis  |  Klimaatsverandering  |  Atmosfeer  |  Kweekhuisgasse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.