Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KYK: Baie dorpe in Noord-Kaap oorstroom

Swaar reën wat sedert Dinsdagmiddag tot Woensdag oor die noordoostelike dele van die Noord-Kaap uitgesak het, het tot groot oorstromings in verskeie dorpe gelei.

In Kathu was die verkeer Woensdagoggend erg ontwrig en het motors deur oorstroomde strate gery.

In die gebiede tussen Kathu en Daniëlskuil is tussen 170 mm en 385 mm reën gemeet.

Ook in Kimberley, Ritchie en Campbell het groot oorstromings voorgekom.

In die omgewing van Douglas het tussen 120 mm en 230 mm reën sedert die vroeë oggendure uitgesak, sê Corney Steyn, ’n boer in die omgewing.

Die swaar neerslae wat oor die gebied voorkom is ’n nadraai van die tropiese sikloon Eloise wat oor die binneland tot ’n laagdrukstelsel verswak het.

Die verkeer in Kathu is erg ontwrig nadat paaie in die dorp oorstroom het. Foto: Verskaf

Eloise het die naweek by Beira in Mosambiek aan wal gekom en op haar pad deur Limpopo en Mpumulanga ook gesorg vir swaar neerslae, wat tot groot oorstromings gelei het.

By Kathu het die Ga-Magara-rivier vir die eerste keer in jare weer begin vloei.

Talle inwoners se huise was ook onder water.

In ’n video wat Deomain Vermeulen gemaak het wys sy hoe haar en haar man, Willie, se pogings om die water te keer onsuksesvol was.

Die egpaar moes hul huis verlaat en by vriende gaan bly.

Bernice Crafford, nog ’n inwoner, sê in die 11 jaar wat sy in Kathu woon het sy nog nooit soveel water of reën ervaar nie.

Paaie is tussen verskeie dorpe gesluit nadat die watervlakke ’n gevaar vir motoriste ingehou het.

By Kuruman is die N14 sowat 40 km buite die dorp op pad na Vryburg gesluit.

Die R31 tussen Daniëlskuil en Kimberley moes ook vir verkeer gesluit word.

In Daniëlskuil het ’n sinkgat in Du Plooystraat gevorm.

Kathu was Woensdag onder water nadat meer as 170 mm reën uitgesak het. Foto: Verskaf

Die straat is gesluit en inwoners is aangeraai om vir hul eie veiligheid weg te bly.

Tussen Campbell en Kimberley was die N8 ook Woensdag onder water gewees.

By Ritchie, wat sowat 45 km vanaf Kimberley geleë is, staan die Sol Plaatje-munisipaliteit se noodspanne gereed om te help nadat talle inwoners se huise oorstroom het.

Sello Matsie, munisipale woordvoerder, sê die munisipaliteit is besig om vir die inwoners verblyf te reël.

“Ons werk saam met die departement vir maatskaplike werk om matrasse, komberse en kos vir die inwoners wat gestrand is te reël.”

Hy sê die reëlings sal in oorleg met die Covid-19-regulasies plaasvind.

Matsie het motoriste gemaan om versigtig te bestuur op die paaie weens die oorstromings wat tot ongelukke kan lei.

Intussen is die vlakke van die Oranjerivier by Prieska en Upington besig om te styg nadat die Vanderkloofdam begin oorloop het.

Die Vaaldam is nou 75% vol, die Bloemhofdam 106,9%, die Gariepdam 101,7% en die Vanderkloofdam 103,6%.

Huise in Ritchie het ook oorstroom. Foto: Verskaf

Meer oor:  Oorstromings  |  Kathu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.