Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KYK: Beseerde pikkewyn swem na weldoener toe sy hom roep

’n Beseerde Afrika-pikkewyn het reguit na ’n weldoener in die Mosselbaaise hawe geswem toe dié hom roep sodat sy hom kan help.

’n Skermgreep van die video wat wys hoe ’n beseerde pikkewyn Sondagmiddag laat reguit na Carol Walton van die Seevoël-en-pikkewyn-rehabilitasiesentrum (Saprec) swem vir hulp. Foto: Pixabay

Carol Walton van die Seevoël-en-pikkewyn-rehabilitasiesentrum (Saprec) het die pikkewyn Sondagmiddag laat in die hawe gered nadat hulle in kennis gestel is dat ’n pikkewyn moontlik beseer en in die moeilikheid is.

Walton het die pikkewyn gewaar, na hom geroep en uiteindelik plat op haar maag op ’n platform gaan lê. “Hy het na my toe aangeswem gekom,” vertel sy. “Dit was regtig ongelooflik.” Sy het hom uit die water gehelp.

Volgens haar was dit asof die pikkewyn, wat ’n bytwond op sy rug het, wou dankie sê vir die hulp. Die pikkewyn is vermoedelik deur ’n rob gebyt.

Die voorval is deur Yuliya Nilssen op video vasgelê en op Saprec se Facebook-blad gesit. Op Facebook het Walton by die video geskryf dat dit die mees ongelooflike oomblik van haar lewe was.

Die pikkewyn is behandel en word by Saprec versorg.

Nie net pikkewyne nie, maar allerhande seevoëls word by die sentrum gerehabiliteer. Van die pikkewyne woon permanent by die sentrum weens die aard van hul beserings en omdat hulle nie gerehabiliteer kan word nie.

Talle jong pikkewyne wat weens onstuimige seetoestande op strande uitspoel, word tans by die sentrum versorg.

Hulle sal ook eers vrygelaat word sodra daar bevestig is dat olie nie meer aan die kusgebied voorkom nie, nadat daar op 6 Julie ’n erge oliestorting by Port Elizabeth was. Talle bedreigde Afrika-pikkewyne is deur die oliestorting geraak.

Saprec het in 2005 tot stand gekom met die hulp van dr. Frans de Graaff, ’n veearts van Hartenbos. ’n Groot gebied, van Stilbaai tot voor Plettenbergbaai, word deur Saprec bedien. Saprec is ’n organisasie sonder winsbejag en is afhanklik van skenkings van die publiek.

Mense wat beseerde seevoëls teëkom, kan Walton by 082 364 3382 bel.

Kyk hier na die video.

Meer oor:  Mosselbaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.