Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KYK: Dorstige slang soos ‘lammetjie’ in man se hand

’n Slang moet erg dors wees as ’n proppie water in ’n mensehand sterker roep as sy natuurlike veg-of-vlug-oorlewingsinstink.

’n Jong rooilip-slang was Saterdag ook ’n slagoffer van die afgelope naweek se hittegolf in Pretoria.

Hy was so desperaat vir water dat hy soos ’n lammetjie in Nico Engels se handpalm gelê en slurp-slurp het aan die water wat die slangvanger in die groen proppie aangebied het.

Of slang se kind besef het hy word bederf met gekoopte bottelwater, is nie seker nie, maar die kyk wat die reptiel daarna vir Engels gegee het, kan maklik as dankbaarheid geïnterpreteer word.

Engels, wat gereeld slange van ongewensde plekke af verskuif, sê die rooilippie is nog jonk, vermoedelik nie eens ’n jaar oud nie.

“Rooilip-slange, ook bekend as ’n Herald, is net dodelik as jy ’n padda is, maar nie regtig vir mense of troeteldiere nie,” verduidelik hy.

Juis oor dié dieetvoorkeur verkies hierdie slange waterpoele en fonteintjies.

Toe ek van die gebottelde water in die proppie gooi, het hy ’n sluk of twee – eintlik drink hulle water met ’n suigaksie – geneem.
Nico Engels
Die jong rooilip-slang lê sonder teenstribbeling in Nico Engels se hand terwyl hy dorstig water uit ’n proppie opsuig. Foto: Verskaf

Reeds voor die afgelope naweek het temperature in Gauteng die kwik in die rooi laat styg. Die aarde is hard en warm en skuilplek en water skaars.

Saterdag het hoewebewoners wat perde naby Roodeplaat aanhou, op die slangetjie afgekom. Hulle het dit gevang, in ’n houer gesit en vir Engels gebel.

“Saterdag was uitsonderlik warm. Toe ek op die hoewe aankom, het die slang uitgeput gelyk. Ek het vermoed hy mag dalk gedehidreer wees van die hitte, want slange drink nogal gereeld water.

“Hy het effens in my hand probeer wriemel toe ek hom uittel, maar toe ek van die gebottelde water in die proppie gooi, het hy ’n sluk of twee – eintlik drink hulle water met ’n suigaksie – geneem,” sê Engels.

Die slang het weer ’n bietjie gewriemel. Engels het weer die prop na hom gehou. Die grys-olyfkleurige kop het oor die proppie se rant gesak en toe bol die kieste soos die slang drink en drink, en nog drink.

Toe lig hy sy driehoek-koppie en kyk vir ’n oomblik na sy redder, amper asof hy dankie sê.

“Hy was baie dors. Dit moes ’n lang dag vir die rooilippie gewees het,” sê Engels.

Hy het later, nadat die slang se dorre keel gelawe is, hom in ’n reservaat, ver van mense, vrygelaat.

* Engels sê slange kan weens die hitte en watertekort in die veld dalk meer gereeld paaie met dié van mense kruis op soek na water. Vir meer inligting oor slangverwydering, besoek sy webtuiste. 

Meer oor:  Nico Engels  |  Droogte  |  Rooilipslang  |  Slang Drink Uit Hand  |  Dors Slang
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.