Oorvol damme, riviere in vloed en mielielande onder water is op die oomblik ’n algemene gesig in ’n sopnat Vrystaat.
Die Bloemhofdam se watervlak staan tans op 103% nadat dit verlede Januarie op 77% en in November 2016 op 11% gestaan het.
Die meeste ander Vrystaatse damme het ook by die goeie reënval die afgelope paar weke gebaat.
Die Allemanskraaldam se vlak het van 55% verlede week tot 85% gestyg.

’n Vragmotor ry oor die brug by Britten tussen Christiana en Bloemhof. Foto: Marietjie Cronjé
Die Gariepdam, wat verlede week 94% vol was, staan nou op 98%.
Die Vaaldam, wat Gauteng se hoofwaterbron is, se vlak is nou 66%. Dit is 10% meer as verlede week en ook heelwat meer as die 52% van die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
Die Tierpoortdam, suid van Bloemfontein, het nou 59% water nadat die vlak verlede jaar op minder as 10% gestaan het. In Januarie 2016 was dié dam nog dolleeg en sy vlak op 0%.

Water vloei uit die Bloemhofdam nadat goeie reën in die opvangsgebied geval het. Die damvlak staan tans op 103%. Foto: Gerda de Kock

Gerda de Kock het dié foto van die Vaalrivier uit ’n girokopter geneem. Foto: Gerda de Kock

Die Bloemhofdam se vlak is op 103%. Foto: Gerda de Kock