Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KYK: Makokou die gorilla kry CT-skandering

Kort voor sy 35ste verjaarsdag gaan Makokou, ’n westelike laaglandgorilla, ’n operasie ondergaan om groeisels in sy neus te verwyder sodat hy hopelik by sy partytjie darem sy lekkernye kan ruik.

Die Johannesburgse dieretuin se enigste gorilla, wat sowat 210 kg weeg, is Saterdag met ’n helikopter na die Onderstepoort- veaartsenykundige akademiese hospitaal (OVAH) geneem vir ’n CT-skandering.

Daar is bevind dat daar weens die groeisels geen lugbeweging in sy neusgange is nie en hy sal oor drie weke ’n operasie by die dieretuin ondergaan om dit te verwyder.

Prof. Gerhard Steenkamp hou toestig oor Makokou se CT-skandering. Foto: Adrian Tordiffe

Die dieretuin se veearts, dr. Kresen Pillay, het die gorilla sedert Desember behandel vir inflammasie in sy neus, maar het besef die simptome dui op ernstiger probleem.

Makokou is op 20 Mei deeglik ondersoek, wat bloedtoetse, X-strale, ’n oog- en tandondersoek en ’n ultraklank-ondersoek ingesluit het.

Prof. Gerhard Steenkamp, ’n veearts van OVAH, het groeisels wat soos gewasse lyk in sy neusgange ontdek. ’n Biopsie het gewys die groeisels is poliepe.

Die silwerrug moes ’n CT-skandering ondergaan om die omvang van die probleem te bepaal en MCC Aviation het ’n helikopter geborg vir sy dagbesoek aan die hospitaal. Hy is vroegoggend verdoof en ’n span van agt mense het na hom omgesien, waaronder die veeartse, prof. Adrian Tordiffe en dr. Justin Grace, asook dr. Kobus Venter, ’n oor-neus-en-keel-spesialis.

Steenkamp verduidelik gorillas is baie nader aan mense as ander diere en dat Makokou se behandeling ’n spanpoging verg, waarin Venter veral belangrik is.

Makokou se CT-skandering is by die Onderstepoort-veeartsenykunde-hospitaal behartig. Foto: Adrian Tordiffe

“Sonder sy kennis en kundigheid gaan ons maar sukkel. Dit is nie ’n one-man show nie, dis ’n one-team show,” sê hy.

Steenkamp het al voorheen gorillas en die Jane Goodall-stigting in Nelspruit se sjimpansees behandel, maar sê dis die eerste keer wat hy met ’n gorilla se neus te doen kry.

“Dis absoluut fenomenaal om met hulle te werk. Dit bly vir my ’n oomblik wat ek altyd sal onthou in my lewe. Ons werk nie so baie met hierdie diere nie, so elke keer is ongelooflik.”

Volgens hom moet hulle nog uitvind presies hoekom die poliepe ontwikkel het.

Makokou se helikoptervlug na die hospitaal is deur MCC Aviation geborg. Foto: Adrian Tordiffe

“Die ander ding wat ons pla, is dat die weefsel baie solied lyk, so ons is maar bekommerd dat daar ’n onderliggende gewas is. Wanneer ons hom opereer, gaan ons ’n patoloog daar hê wat die weefsel sal evalueer soos wat ons dit verwyder sodat ons kan vasstel of daar iets is wat dalk op ’n slegte prognose dui,” sê hy.

“As dit net poliepe is, is die prognose taamlik goed as ons als kan uitkry. As dit kanker is, sal dit afhang van watter kanker dit is.”

Die ondersoek het ook gewys Makokou het ’n harttoestand, fibrose, wat gereeld in groot ape voorkom.

“Dit is ongelukkig een van die grootste oorsake van sterftes in aanhouding. Maar ten minste weet ons dit nou en kan ons dit begin behandel sodat sy hart beter funksioneer.”

Die helikopter wat Makokou na die hospitaal geneem het. Foto: Adrian Tordiffe

Volgens Steenkamp word gorillas in aanhouding gewoonlik nie ouer as 40 – 50 jaar nie en kan Makokou as ’n bejaarde beskou word.

Hy was Saterdagaand terug in sy kamp en Jenny Moodley, woordvoerder vir die dieretuin, sê hy het Sondag ontspanne gelyk.

Makokou is op 9 Julie 1985 in ’n dieretuin in Stuttgart, Duitsland gebore en is einde 2004 na Suid-Afrika gebring.

Meer oor:  Gorilla  |  Makokou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.