Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KYK: Meerkatjies steel harte in Oudtshoorn

Vir die eerste keer in 12 jaar is die Cango Wildlife Ranch-wildbesigtigingsentrum in Oudtshoorn vier babameerkatte ryker.

“Die laaste keer dat meerkatjies hier gebore is, was in 2006,” sê Charleen Boshoff, ’n woordvoerder van die sentrum, in ’n verklaring.

Drie van die meerkatjies van naderby gesien. Foto: Cango Wildlife Ranch

Die vier het op 22 Februarie die eerste lewenslig aanskou en is onlangs aan die wêreld bekend gestel. Hul ma, die tweejarige Macy, is aan die einde van verlede jaar deur ’n besoeker aan die sentrum besorg nadat sy deur mense grootgemaak en aangehou is. Sy kon dus nie weer in die natuur vrygelaat word nie.

By die sentrum het sy gou maats gemaak met ’n eensame vrygesel en soos die spreekwoord lui, is die res geskiedenis.

Die nuwelinge is deur hul ma versorg en die sentrum se dierkundige span kon gereeld inloer om seker te maak dat alles klopdisselboom verloop.

Een van die kleingoed sit kiertsregop. Foto: Cango Wildlife Ranch

Volgens Boshoff is die meerkatjies perdfris en gesond. Meerkatte kan tot 77 dae dragtig wees en geboorte gee aan tot agt kleingoed op ’n slag.

“Volgens die San Diego-dieretuin in Amerika weeg pasgeborenes tussen 25 g en 36 g, soortgelyk aan die gewig van ’n teelepel suiker.

“Teen die negende dag het die vier by die sentrum reeds tussen 55 g en 60 g geweeg.

“Dit gaan baie goed met hulle en as deel van hul natuurlike gedrag help die hele kolonie bestaande uit die volwassenes Macy, Dusk en Scout om die babas groot te maak. Macy sal hulle waarskynlik tot nege weke lank soog, waarna hulle self vir kos sal begin soek,” sê Boshoff.

Die vier se geslag sal eers vasgestel kan word wanneer hulle groter is. Mense kan name vir die vier kleintjies voorstel op die sentrum se Facebook-blad.

Die kroos by die drie volwassenes, Macy, Dusk en Scout. Foto: Cango Wildlife Ranch
Hier loer die kleinspan nuuskierig na buite. Foto: Cango Wildlife Ranch
Meer oor:  Oudtshoorn  |  Wild  |  Omgewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.