’n Swerm sprinkane van sowat 2 km lank by 2 km breed het Dinsdagmiddag oor die Suid-Vrystaat getrek.
Andries Kotze, voorsitter van die boerevereniging in Trompsburg, sê dat daar drie swerms tussen 13:00 en sonsondergang in die omgewing van Trompsburg en Edenburg was.
“Die swerms se grootte is nog nie van so aard dat dit ongelooflike skade aangerig het nie. Ons het ook nog nie ernstige klagtes van boere ontvang nie.”
Kotze sê wanneer die sprinkane so oor die veld vlieg, rig hulle nie soveel skade aan soos wanneer hulle ná sononder in die veld gaan lê nie.
“Dis daar waar hulle oornag waar die grootste verwoesting gesaai word.”
Volgens boere wat al lank in die distrik woon, het hulle laas in 1985 so ’n sprinkaanswerm in die Trompsburg-omgewing gewaar.
Kotze sê die boere in die omgewing, in samewerking met ’n taakspan wat die sprinkane uitwis, werk goed saam om op hoogte te bly van die swerms se bewegings.
Wanneer hulle teen sononder in die veld gaan lê, kom die taakspanne hulle by met gifstowwe en spuit hulle tot voor hulle die volgende oggend weer begin vlieg.
Kotze sê hulle hoop dat die swerm oor sowat twee weke uitgewis sal wees.
Teen Woensdagmiddag het die swerms saam met die wind noord in die rigting van Smithfield beweeg.
Hierdie verskynsel in die Vrystaat volg net ’n week nadat swerms sprinkane verlede week hul pad deur die Karoo gevind het.

’n Swerm sprinkane Dinsdagmiddag in die Suid-Vrystaat. Foto: Verskaf