Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KYK: ’n Plek in die son vir verwaarloosde groot katte

Dit weergalm in die donkernag tussen Vrystaatse koppies, die een se gebrul harder as die ander.

Kimba is gewoonlik een van die eerstes wat begin, al is sy bek grys en verkies hy die filet tussen die vleis wat aan hulle geskenk word.

As 17-jarige leeu word hy gereken as ’n senior inwoner van die Lionsrock Big Cat Sanctuary buite Bethlehem.

So dan en wan kry Phiri, die skugter hiëna van Jordanië, sy stem dik gemaak.

Motan en Pisa, van ’n dieretuin in Gaza, koes agter ’n afskorting in die kamp waar hulle nog aanpas by hul nuwe lewe by Lionsrock.Foto: Deaan Vivier

Hulle klink soos diere met hoop, oorlewendes wat nou ’n lewe so na as moontlik aan die natuurlike het, nadat hulle uit ysingwekkende omstandighede gered is.

Die plaas waarop die toevlugsoord Lionsrock geleë is, was eers ’n doodloopstraat vir leeus waar dié vorstelike diere geteel is om geskiet te word.

In 2006 het die dierewelsynsorganisasie Four Paws dit oorgeneem en omskep in ’n skuilplek.

Hier, tussen die geel veldgras is hartseer-agtergrond-stories, driepoot-diere, grysbek-diere, oorlogsvlugtelinge, geblikte leeus.

En ’n tweede kans.

Reg op lewe

“Daar is ongeveer 3 000 wilde leeus in Suid-Afrika, en tussen 8 000 en 11 000 (afhangend van die navorsing waarna jy kyk) in aanhouding.

“Dis diere waarvan sommige nog nooit gras onder hul pote gevoel het nie en nie die nodige mediese sorg of stimulasie ontvang nie,” sê MJ Lourens, woordvoerder van Four Paws South Africa.

Daarby word hierdie en ander groot katte soos tiere wêreldwyd as “eksotiese” troeteldiere of toeristeattraksies in dieretuine of sirkusse wat nie op peil is nie aangehou.

Omdat Four Paws glo dat elke dier die reg op lewe het, het hulle met die Lionsrock-projek begin.

Lourens sê die organisasie het destyds 25 leeus saam met die perseel “geërf”.

Twee tiere, gered van ’n bankrot sirkus in Duitsland, speel soos huiskatte sonder dat iemand ’n sweep in hul rigting klap.Foto: Deaan Vivier

Van hulle is mank – die langtermyngevolg van welpies wat te vroeg van hul ma’s weggevat is vir kommersiële gebruik en ’n verkeerde dieet terwyl hulle in aanhouding is.

Sedertdien het meer as 150 “groot katte” van oor die wêreld heen hier ingetrek nadat hulle gered is.

Hulle bly in sirkelvormige kampe van etlike hektaar groot, sodat die dier nooit weer sal voel dat hy/sy in ’n hoek vasgekeer is nie.

Kampe is volgens die dier se natuurlike habitat ingerig, met skuilings en stellasies om die wêreld te kan besigtig.

Vir dié soos Pisa en Motan wat nog getraumatiseerd is nadat hulle vroeër vanjaar uit ’n dieretuin in Gaza in die Midde-Ooste gered is, word ekstra planne, soos ’n seil teen die draadheining om agter weg te kruip, gebied.

Dié leeumannetjie en -wyfie se herinneringe van ontploffende bomme, vliegtuie, mense met gevaarlike stokke in die hand, lê nog so vlak dat tot langlenskameras hulle agterdogtig maak.

’n Entjie verder is vier tier-“broers”, al die pad van ’n Duitse sirkus.

Een poot is groter as twee manshande saam.

Hulle speel soos huiskatte, totdat die liggeel oë mense naby die heining sien.

Met hul adellike status weer in ere herstel, patrolleer twee oud-sirkustiere hul reuse-kamp by Lionsrock in die Vrystaat. Foto: Deaan Vivier

Dan flits die vlymskerp-slagtande waarskuwend: geen swepe of toertjies onder skerp ligte meer nie.

Aandag aan die individu

Donald Dlamini van Four Paws, sowel as opsigter en bewaarder by Lionsrock, ken die vierpotige inwoners beter as die palm van sy hand.

“Ons het 12 verskillende bokspesies hier, ’n aftree-oord (vir die roofdiere), ’n veeartseny-eenheid, 80 leeus, 15 tiere, drie luiperds, een jagluiperd, een rooikat en vir Phiri,” noem hy op.

Wyfies word gesteriliseer. Mannetjies kry later ’n vasektomie.

“As ’n mens die mannetjies te vroeg doen, kry hulle nie maanhare nie,” verduidelik hy.

Nuwe intrekkers word in ’n spesiale kamp, langs ander inwoners, geplaas.

“Dis soos ’n dating sone waar hulle mekaar kan uitkyk,” verduidelik Dlamini.

“Ons kry die katte gewoonlik van dieretuine, sirkusse waar hulle agter tralies in hokkies van ’n paar vierkante meter aangehou is. Ons sit hulle eers hier sodat hulle by ’n groter spasie en die natuur kan aanpas en aan die ander leeus voorgestel word.

“As hulle nie dieselfde belangstellings het nie, plaas ons nie die diere by mekaar nie. Dit wat hulle vra, doen ons. Hulle besluit wie trek saam met wie in,” voeg hy by.

Vir verdere emosionele versorging is daar ’n verrykingsprogram om die diere te stimuleer.

Een van die vier tier-broers wat van ’n bankrot sirkus in Duitsland na Suid-Afrika gebring is vir ’n nuwe lewe. Foto: Deaan Vivier

“Ons gee vir hulle balle, bokse met vere of gras met speserye soos kaneel, vanielje of kattekruidop. Hulle love dit,” sê Dlamini stralend.

Volgens Lourens het die diere baie gedragsprobleme omdat hulle getraumatiseerd is.

“Een sal byvoorbeeld die heeltyd sy eie stert byt. Die verrykingsprogram verskaf afleiding wat help om negatiewe gedrag te breek.”

Daar is ook dié wat glo die hele Lionsrock behoort aan húlle, soos Sasha, die driepoot-jagluiperd.

“Hy was nog klein toe stropers sy ma geskiet het. Hy het nog nie mooi leer jag nie, maar moes probeer. Toe skop ’n blouwildebees sy agterpoot af.

“Hulle het hom probeer vrylaat nadat die poot geamputeer is, maar Sasha loop swaar en kan nie met een agterpoot iets bespring nie,” vertel Dlamini.

Nou word kos agter Sasha “aangedra”.

Hy herken onmiddellik die stem wat van die hek roep met etenstyd, sukkel orent en sleep-sleep sy agterlyf oor die grond.

Eers wankel die jagluiperd effens.

Dan skiet hy, steeds soos dit die vinnigste landdier betaam, na waar sy maaltyd wag.

Dlamini roep tergend agterna: “Jy onthou mos net jy kan loop as die kos-voertuig kom, nè”.

Naaste aan vryheid . . .

Audrey Delsink, wildlewe-direkteur van die Humane Society International (HSI) Africa sê Lionsrock is die naaste wat dié dier-inwoners aan vryheid kan kom.

“Daar is in Suid-Afrika geen wetgewing teen die aanhouding van ‘eksotiese troeteldiere’ nie, daarom kry ’n mens tiere in agterplase.

“Die diere val dus nie onder die beskerming van die dierebeskermingsvereniging nie, wat hulle eers kan verwyder as daar ’n welsynsprobleem is.

“Voorts kom Suid-Afrika se Dierebeskermingswet uit 1962. Dit is argaïes.

“Ons as HSI Africa het ook nie ’n mandaat om diere te konfiskeer nie. Ons kan net aanbevelings maak en organisasies soos Four Paws help om diere te verskuif,” sê sy.

Daarom is opvoeding hul en die diere se sterkste wapen.

“Min mense vind die verband tussen speel met welpies en stappies saam met jong leeus en geblikte jag of die leeubeendere-bedryf.

“Ons noem dit die Snuggle Scam. Vrywilligers, veral van oorsee, betaal duisende om, soos wat hulle vertel word, te ‘help’ met ‘wesies’, terwyl daardie welpies vroeg van hul ma’s weggevat word, te min voedingstowwe en slaap kry, sodat eienaars geld uit toeriste kan maak.

“Intussen moet die leeuwyfie, iewers in ’n klein hokkie, bly aanteel om aan die vraag na welpies te voldoen. Die welpies word groot – en is uiteindelik bestem vir geblikte jag of leeu-slagpale,” sê sy.

Diereliefhebbers moet eerder etiese bestemmings besoek, plekke waar daar nie met die diere geteel word nie en geen aanraking deur besoekers is nie.

Kimba, die gryse 17-jarige leeumannetjie, is steeds voor in die koor met brultyd, al bly hy nou in Lionsrock se “aftreeoord”. Foto: Deaan Vivier
Thulani, een van die luiperds wat ’n tweede kans by Lionsrock in die Vrystaat gevind het, bak in die son se laaste strale. Foto: Deaan Vivier
Die kampe by Lionsrock is almal sirkelvormig en so na as moontlik aan die inwoners se natuurlike habitat ingerig.Foto: Deaan Vivier
(1) Sasha, die driepoot-jagluiperd, hoor hoe sy naam met kostyd geroep word. Foto: Deaan Vivier
(1) Sasha, die driepoot-jagluiperd, hoor hoe sy naam met kostyd geroep word. Foto: Deaan Vivier
(2) Die jagluiperd, wie se agterpoot deur ’n blouwildebees afgeskop is omdat hy te onervare was om te jag ná sy ma se dood, sukkel-sukkel eers oor die hobbels in die veld. Foto: Deaan Vivier
(3) Sasha se balans is egter foutloos as hy spoed optel en begin hardloop. Foto: Deaan Vivier


Meer oor:  Four Paws
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.