Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KYK: Nuwe lewe in SA vir vier jong leeus uit Oekraïne

Bring hulle huis toe.

Dit was Lionel de Lange se onwrikbare missie: dat vier jong leeus vir die eerste keer in hul misrabele lewens die Suid-Afrikaanse son kon voel, en net leeu kan wees.

Die redding sou egter byna jaar en ’n reis oor kontinente en oseane heen neem voordat die tweelingsussies Kai en Luca, hul jonger suster, Charlie, en klein Nathan, Woensdag uiteindelik vanuit die Oekraïne by die Rand-lughawe naby Johannesburg aangekom het.

Drie van die vier jong leeus wat uit die OekraÏne uit haglike omstandighede deur Lionel de Lange gered is en vandag in Suid-Afrika aangekom het, lê verdoof in 'n private vliegtuig kort voor hul opstyging by Rand-lughawe vir die laaste deel van hul reis tot by hul nuwe tuiste in die Kragga Kamma-natuurreservaat in die Oos Kaap. Foto: Deaan Vivier

De Lange het hard van verligting gesug toe Luca in haar krat opstaan en met priemende geel oë die nuwe sneeu-lose landskap gade geslaan. Charlie se tong het begin uithang, soos ’n leeu in die Bosveldse somerhitte sou doen.

De Lange se gesig vertrek as hy vertel uit watter omstandighede hy dié vier groot katte gered het.

As direkteur van die humanitêre en bewaringsorganisasie, die Lawrence Anthony Earth Organization se tak in die Oekraïne, is dié oud-Suid-Afrikaner ongeveer ’n jaar gelede na die stad Sambir om mishandelde bere te red.

“Toe kom ek af op hierdie sement-en-staal-hokkie van 35 m² waar drie leeuwyfies, seker so vier jaar oud, in hul eie ontlasting bly. Hulle was deel van ’n sirkus en reisende dieretuin, waarvan een leeu reeds gevrek het. Daar was geen manier waarop ek die oorlewende drie in daardie haglike omstandighede kon los nie,” vertel De Lange.

Kort daarna het hy gehoor van Nathan, ’n welpie van skaars agt weke oud. Hy was in die hande van ’n berugte dierehandelaar wat hom aan ’n sirkus wou verkoop.

Taai onderhandelings

Dié onderhandelings het ’n bietjie taaier gegaan en De Lange moes ’n “middelman” instuur om Nathan te bekom sonder dat die handelaar weet hy is betrokke.

Met die vier diere uiteindelik veilig, het hy vir hulle ’n tydelike kampie geskep totdat die burokrasie van permitte, papierwerk en inentings afgehandel is.

Vier jong leeus wat uit die Oekraine uit haglike omstandighede gered is deur Lionel de Lange en vandag in Suid Afrika aangekom het, voordat hul op 'n private vliegtuig gelaai word by Rand-lughawe vir die laaste deel van hul reis tot by hul nuwe tuiste in die Kragga Kamma natuurreservaat in die Oos Kaap. Foto: Deaan Vivier

“Dit alleen het ons tien maande geneem. En ons het fondse benodig. Baie,” onthou De lange.

Daarby wou hulle die diere voor die volgende Oos-Europese winter, waar temperature tot ver onder die vriespunt daal, wegkry.

Toe die “Bring them back home”-veldtog egter stukrag gekry het, was dit soos ’n vloedgolf van mense wat met elke sent probeer help het. Die diere vind ’n nuwe tuiste van byna 2 ha in die Kragga Kamma-reservaat in die Oos-Kaap kon vind, met bome en gras en genoeg kos.

Die Turkse lugredery het ’n reuse-afslag op die leeus se “vliegkaartjies” vanaf Kiev in die Oekraïne, via Istanbul in Turkye, tot by die OR Tambo-lughawe, aangebied.

Zelda de Keijzer, bestuurder van die Bateleurs flying for the enivorment-organisasie van Hoedspruit, sê hulle kon help met twee vliegtuie en vlieëniers om die diere en betrokkenes van die Rand-lughawe na Port Elizabeth te vervoer.

Amper dood

“Hierdie leeus was verlede winter amper dood van die koue in die Oekraïne. Ons het besef dinge moet vinnig gebeur en ons het hulp aangebied. Hierdie diere is mishandel om toertjies te leer wat mense laat lag. Ons wou help dat hulle huis toe kom, dat hulle voetspore op Afrika-grond lê,” sê sy.

Luca, een van die vier jong leeus wat uit die Oekraïne uit haglike omstandighede gered is en vandag in Suid Afrika aangekom het, voordat hulle op 'n private vliegtuig gelaai is by die Rand-lughawe vir die laaste deel van hul reis tot by hul nuwe tuiste in die Kragga Kamma-natuurreservaat in die Oos-Kaap. Foto: Deaan Vivier

Vrydagaand het die leeus agterop ’n vragmotor in ’n ysige -8° C na die lughawe in Kiev gery. Hulle moes in hul kratte in ’n pakhuis wag totdat doeanebeamptes hul vertrek goedgekeur het.

Toe is dit die vlug na Istanbul, waar hulle weer moes oorbly, en uiteindelik die vlug na Suid-Afrika saam met De Lange en ’n veearts van die Oekraïne. Die leeus is tydens die reis so min as moontlik verdoof.

By die OR Tambo-lughawe is die vier kosbare kratte versigtig afgelaai. ’n Staatsveearts moes eers seker maak hulle is ongedeerd voordat hulle op ’n vragmotor na die Rand-lughawe gebring is.

“Dit was ’n rowwe rit, en die arme leeus was toe al byna 70 uur op reis. Maar dit is nie naastenby gelykstaande aan dit waarvan ons hulle wegvat nie,” sê De Lange.

Nuuskierig

Ben Muller en Joel Alves van WildVets.com was gereed by die Rand-lughawe, gewapen met elke denkbare middel om die leeus gemaklik te maak.

Die groot vragmotor met die flitsende geel ligte bo-op het versigtig by die hek ingery. Agterop was die vier kratte – gemerk met elke leeu se naam.

Hulle was wakker. En nuuskierig. Een het die lug beruik, ’n ander het sag gebrom-brom asof sy vra: “Is ons al daar?”

De Lange het hulle welkom geheet voordat die veeartse die leeus verdoof het.

Twee van die vier jong leeus wat uit die Oekraïne uit haglike omstandighede gered is en vandag in Suid Afrika aangekom het, voordat hulle op 'n private vliegtuig gelaai is by die Rand-lughawe vir die laaste deel van hul reis tot by hul nuwe tuiste in die Kragga Kamma-natuurreservaat in die Oos-Kaap. Foto: Deaan Vivier
Joel Alves, veearts van WildVets.com, ondersoek die vier jong leeus wat uit die Oekraïne uit haglike omstandighede gered is en vandag in Suid-Afrika aangekom het, voordat hulle op 'n private vliegtuig gelaai is by die Rand-lughawe vir die laaste deel van hul reis tot by hul nuwe tuiste in die Kragga Kamma-natuurreservaat in die Oos-Kaap.Foto: Deaan Vivier

Toe word die jong leeus een vir een op ’n geel seil na die wagtende vliegtuig gedra. Dit het wel verskeie hande gekos, want hulle het redelik gewig aangesit sedert De Lange hulle gered het.

Nathan, die jongste, se stert het om die winterswolle wat nog aan sy boud geklou het, gevou.

Hulle is saggies, in ’n lepel-lê-posisie, in die vliegtuig neergelê. Die Pilatus-vliegtuig het begin por-por-por.

Jody Harrington, ’n brandweer-offisier by die lughawe, het teruggetree. Sy ekstra hande is op die nippertjie ingeroep om die leeus te skuif.

“Ek het nié vanoggend toe ek wakker word, gedink ek gaan leeus ronddra nie,” sê hy in verwondering.

Die leeus was tuis.

Lionel de Lange, 'n oud Suid-Afrikaner, wat aan die spits gestaan het van die redding. Foto: Deaan VIvier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.