Boere van Aliwal-Noord het Sondag die een na die ander begin juig toe die Oranjerivier, wat lank stilgestaan het, se water oor die keerwal begin borrel en bruis het.
Dit kom nadat dit in Lesotho gereën het.

Water het Sondag oor dié keerwal van die Oranjerivier by Aliwal-Noord begin stroom. Foto: Verskaf
Die rivier het hier in die Oos-Kaap en in die Vrystaat sedert begin November stilgestaan. Dit het tot ’n reuse-watertekort en debatte oor waterregulering gelei.
Die regering is ook weer opnuut gevra om ’n dam vir sulke soort krisissituasies te bou.
Jakkie van Zyl, voorsitter van die Maletswai-sakekamer, beskryf dit as ’n groot verlossing toe die rivier vroeg Sondagoggend begin loop het.
“Hy loop nou nie stróme nie, maar hy loop lekker en hulle pomp, so ons het nou weer normale water.”
Dit is volgens hom genoeg water om die tekort op die dorp en op die plase te verlig.
Boere in dié distrik het tot Sondag ondergrondse water gepomp in ’n poging om water op die dorp te kry.
Die munisipaliteit se pompe is egter sedert Sondagmiddag weer in werking.
“Die groot vraag is net oor die hoeveelheid water wat gaan kom en hoe lank dit gaan kom. Dit sal dringend moet aanhou reën.”

Die Oranjerivier het weer by Aliwal-Noord begin loop nadat dit in Lesotho gereën het. Foto: Reënval SA
Ruan West van Aliwal-Noord sê dit is verstommend dat niemand nog daaraan gedink het nie om die keerwal skoon of wyer te maak om ’n groter water-inname te verseker.
“Wat niemand besef nie, is dat die rivier met elke vloei en droogte ál hoe vlakker word met die sand wat opbou en só die algehele watervolume van die rivier laat afneem. So die rivier het ’n kleiner volume water elke keer wat dit ‘vol’ is.”
Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, het ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om steeds aktief water te bespaar omdat damvlakke oor die land heen weens die hitte en tekort aan reën daal.
Sy het verwys na belangrike opgaardamme soos die Noord-Kaapse Kareedam wat tans slegs 11,2% vol is. Die Boegoebergdam in die Oranjerivier is 108,4% vol, die Vaalhartsdam in die Vaalrivier 73,8% vol en die Douglasdam staan op 74,3% – al drie in die Noord-Kaap.
Die opgaardamme in ander provinsies, wat as oorgangsdamme gebruik word, het ’n baie kleiner kapasiteit en word gevoer deur die Vaal- en die Oranjerivier, sê sy.
“Dus wissel die vlakke van dié damme week na week.”

Boere in die Aliwal-Noord-omgewing het Sondag gejubel omdat die Oranjerivier weer sy keerwalle begin oorstroom het. Foto: Reënval SA