Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KYK: SA’ner reis om Antarktika, kom terug na geslote wêreld

Dink jou dit in: Jy reis om Antarktika waar jy ’n maand lank geen kontak met die buitewêreld het nie.

Ysberge dryf op die see naby Antarktika. Foto: Claudia Holgate

Wanneer jy weer kontak maak, is die hele wêreld gesluit uit vrees vir ’n dodelike virus. Geen hawe wil jou skip laat vasmeer nie en jy weet nie hoe jy weer by jou huis in Suid-Afrika gaan uitkom nie.

Dit mag dalk na die draaiboek van ’n wetenskapsfiksie-rolprent klink, maar vir Claudia Holgate, ekspedisieleier en poolgids op die skip Ortelius, is dit die werklikheid.

Die Ortelius, met Holgate – ’n spesialis in klimaatsverandering, ornitoloog en fotograaf, haar 49 bemanningslede en 94 passasiers aan boord, het Nieu-Seeland in Februarie op ’n Antarktiese ekspedisie verlaat. Die ysbrekerskip behoort aan Polar Cruises wat mense die geleentheid gee om die Noord- en Suidpool te besoek.

“Ons hoofdoelwit was om die hut van kaptein Robert Scott, die hut van Borchgrevink (die eerste persoon wat voet op Antarktika gesit het) en die hut van Ernest Shackleton te besoek,” vertel Holgate via e-pos.

“Ons ander twee doelstellings was om die Ross-yslaag (die grootste yslaag ter wêreld) te sien, en aan wal te gaan by die Droë Valleie. Dit is een van die droogste plekke op aarde.

Claudia Holgate Foto: Verskaf

“Dit het ’n dag voordat ons daar aangekom het, daar gesneeu. Ons kon geen rekords vind van wanneer dit laas daar gesneeu het nie. Dit was dus ’n belangrike gebeurtenis.

“Dit is die deel van Antarktika waar gevriesdroogde diere gevind kan word. Ons het so ’n seeleeu gevind.

“Die temperature was minder as nul grade en daar was buitengewoon sterk winde, tot 10 of 11 op die Beaufort-skaal. Ons kon letterlik sien hoe die see voor ons vries.”

Holgate verduidelik hulle het kontak met die buitewêreld verloor omdat hulle weens die kromming van die aardbol nie meer in lyn met die regte satelliete was nie.

Hoewel die bemanning en gaste aan boord van die Ortelius bewus was van die uitbreking van die nuwe koronavirus voordat hulle vertrek het, was dit in daardie stadium tot China beperk.

ONE TIME USE ONLY
Sonsopkoms oor ‘n see vol “pannekoekys”. Foto: Claudia Holgate

“Toe ons uit ons ‘internet-swartgat’ kom, vind ons die wêreld is toegegrendel. Ons het gedink dat ons in Ushuaia (die mees suidelike stad ter wêreld) in Argentinië aanvaar sal word, maar hulle het die hawe gesluit 12 uur voordat ons daar aangekom het.

“Hulle het ons wel toegelaat om vas te meer, want ons was meer as ’n maand ter see en moes weer voorrade en brandstof oplaai.

’Hulle kon egter nie afklim nie.

Holgate sê hulle het oorspronklik beplan om na Beunos Aires in Argentinië te vaar, maar moes toe na Montevideo in Uruguay waar passasiers en van die navorsers wel toegelaat is om aan wal te gaan en na hul eindbestemmings te reis.

“Ek het ’n kaartjie bespreek vanaf Montevideo oor Sao Paulo en Addis Abeba tot in Johannesburg, maar ek sou op 27 Maart daar aangekom het,” skryf Holgate. Dit was een dag te laat omdat die Suid-Afrikaanse staat van inperking om middernag op 26 Maart van krag geword het.

Holgate skryf dat soos dit nou lyk, gaan sy eers einde Mei tuis wees. Dit is te sê as daar teen daardie tyd weer passasierslugdienste in bedryf is.

Die Ortelius vaar tans na Vlissingen, sy tuishawe in Nederland en hulle verwag om teen 23 April daar aan te kom. Almal aan boord is reeds ingelig dat hulle dan vir twee weke in kwarantyn geplaas gaan word.

“Dit is ondanks die feit dat ons niemand nuut sedert 16 Februarie aan boord gehad het nie.”

ONE TIME USE ONLY
Dié foto van Claudia is deur ‘n kollega geneem. Sy wou nader gaan kennismaak met ‘n boggelrugwalvis toe dié vir haar kom dagsê het. Foto: Verskaf

Holgate sê sy verwag om in Suid-Afrika wéér vir twee weke in kwarantyn geplaas te word, voor sy toegelaat sal word om na haar huis in Roodepoort aan die Wes-Rand te gaan.

Die wêreldwye beperkings op reis beteken ook dat Holgate en haar mede-bemanningslede tot minstens die einde van die jaar sonder werk sit.

“My volgende kontrak om op ’n ekspedisie na die Noordpool te gaan, is reeds gekanselleer. Ek twyfel ook of ons in Augustus na Groenland sal gaan soos beplan.”

Holgate sê die een ligpunt is dat sy ’n opgeleide hoësorg-paramedikus is.

“Ek het ’n idee dié vaardighede is tans in aanvraag in Suid-Afrika. Ek glo ek sal werk as ’n paramedikus kry,” skryf sy.

En hoe hou sy haar nou besig op die lang reis na Nederland?

Haar studies vir haar doktorsgraad in noodmedisyne by die Universiteit van Kaapstad hou haar besig, sê sy, asook haar fotografie.

En sy bedink elke dag ’n nuwe, eienaardige haarstyl, waarmee sy haarself, haar kollegas en haar volgelinge op sosiale media vermaak.

Meer oor:  Antarktika  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.