Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KYK: Sanparke gedenk veldwagters wat aan diens sterf

Sanparke het Woensdag by die Mouillepunt-vuurtoring in Seepunt, Kaapstad, hulde gebring aan veldwagters in Afrika wat die afgelope jaar aan diens hul lewe verloor of beseer is.

Die geleentheid was deel van die 12de Wêreldveldwagtersdag.

Sanparke het die geleentheid in samewerking met die Suid-Afrikaanse vloot, die Kaapstadse wetstoepassingseenheid en CapeNature aangebied.

Veldwagters van al vyf Kaapse streke was die eregaste.

Property Mokoena, uitvoerende bestuurder van Sanparke, aan die woord. Foto: Jaco Marais

Tydens verrigtinge is ’n oomblik van stilte gehou vir die veldwagters wat in die uitvoering van hul pligte dood is

Die wagte sluit in: Angola (1), Botswana (1), Burkina Faso (1), Tsjad (1), die Demokratiese Republiek van die Kongo (6), Ghana (3), die Ivoorkus (5), Kenia (1), Malawi (3), Mosambiek (3), Namibië (6), Nigerië (1), Senegal (1), Suid-Afrika (5), Suid-Soedan (1), Tanzanië (5), Uganda (6) en een voorval in ’n onbekende land.

“Ons vier veldwagters wat aan diens sterf en beseer word en ons vier ook die veldwagters wat die planeet beskerm,” het Property Mokoena, uitvoerende bestuurder van Sanparke, gesê.

Lede van Sanparke het Woensdag Wêreld Veldwagtersdag met ‘n parade en ander aktiwiteite gevier by die Mouille Punt Vuurtoring in Seepunt, Kaapstad. Foto: Jaco Marais

’n Oomblik van stilte is ook gehou vir die vermoorde Ivan Ivanof (44), ’n toeris van Oekraïne wat Saterdag op Tafelberg vermoor en van sy rugsak beroof is.

“Ons het mnr. Ivan Ivanof verloor. Sulke goed moet nooit in ons nasionale parke gebeur nie,” het Mokoena gesê.

Volgens hom is veiligheid veral vir Kaapstadse parke ’n bron van kommer. Daarom het die departement van toerisme geld beskikbaar gestel om 120 toeristemonitors in parke in die Kaapse streek en in Tafelberg se parke te ontplooi.

Die primêre doel van die monitors is om die veiligheid van besoekers en toeriste te verseker en om inligting aan hulle te verskaf.

“Die veiligheid van ons veldwagters is vir ons belangrik, veral in Kaapstad. Ons wil seker maak dat hulle opgelei is sodat hulle hul werk doeltreffend kan doen,” sê hy.

Veldwagters van al vyf Kaapse streke het die geleentheid bygewoon. Foto: Jaco Marais

Luidens ’n verklaring deur Sanparke beskerm veldwagters die land teen renoster- en perlemoenstropery, sowel as teen die onwettige verwydering van plante soos broodbome en proteas.

“Die Kaapse streek gaan die afgelope paar jaar gebuk onder stropery, rooftogte en ’n aantal ongelukkige voorvalle wat tot sterftes gelei het, wat ’n groter las op die veldwagters plaas wat hier werk,” sê Mokoena.

Daarom was daar tydens die verrigtinge demonstrasies van Sanparke se honde-hanteerders, sowel as ’n demonstrasie van perlemoenstropers wat aangekeer word deur die Kaapstadse metropolisie en die departement van visserye.

Volgens hom moet veldwagters ook nou op die uitkyk wees vir misdadigers en nie net vir diere, soos voorheen nie.

Tydens die verrigtinge was daar ook ’n honde demonstrasie deur van SANParke se honde-hanteerders. Die honde word ingespan wanneer daar rooftogte en aanvalle in die Sanparke plaasvind. Foto: Jaco Marais
Meer oor:  Sanparke  |  Seepunt  |  Omgewing  |  Veldwagters  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.