Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KYK: Teen dié koers is ietermago binne 10 jaar weg

Altesaam 400 000 Afrika-ietermago’s is verlede jaar gestroop.

Dr. Karin Lourens, veearts en eienaar van die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital, sê as dié diere nie dringend beskerm word nie, gaan hulle binne tien jaar ’n uitgestorwe spesie wees.

Die ietermago is die dier wat die meeste ter wêreld gestroop word.

“As jy al die diere wat jaarliks gestroop word – die renosters, olifante, almal – bymekaar tel, kom dit nog nie naby die getal ietermago’s wat jaarliks gestroop word nie.”

Die ietermago wat tans in dr. Karin Lourens van die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital se sorg is.Foto: Jana Marx

Lourens sê die ietermago se skubbe is so sterk dat ’n volwasse leeu nie eens daardeur kan byt nie.

“Vir 80 miljoen jaar al lewe hierdie dier sonder ’n natuurlike roofdier wat hom jag. Nou is dit die mens wat hom uitroei,” sê sy.

“Mense in die Oosterse lande glo die skubbe is van medisinale waarde, soos die renosterhoring. Hulle glo dit kan enigiets regdokter. Dit word ook geëet. Jy betaal sommer R3 000 vir fetussop, dan kry jy ’n heel fetus in ’n bak sop.”

Lourens is dus bly dat die ietermago in 2016 ingevolge konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) se Bylae I gekategoriseer is, wat beteken dat alle vorme van handel in die diere – plaaslik en internasionaal – verbied word.

Sy sê in Afrika word die dier as heilig geag.

“Hier en daar sal ’n sangoma een doodmaak, maar hy sal hom tien jaar lank aaneen gebruik. Die probleem is nie met ons eie mense nie, die probleem kom van buite. Mense in China reël handlangers – arm mense – in Afrika om namens hulle te stroop.”

Die ietermagog in sy hokkie. Foto: Zukhanye Mtebele

Sy sê daar is vier Oosterse spesies en vier Afrika-spesies van die ietermago.

“Die Oosterse spesies is al byna uitgeroei. Die 400 000 diere (60 ton skubbe) wat jaarliks uitgeroei word, is nét die Afrika-ietermago,” sê sy.

“Ag, hulle is beskeie nagdiere en snuffel maar net rond. Hulle het nie tande nie en hulle kan nie eens mooi sien nie. Hulle is so weerloos. Hy skrik vir ’n stroper, rol op, en word dan in ’n sak gegooi.”

Sy sê dit is ook nie moontlik om met dié diere in aanhouding te teel nie.

“Hulle het groot oop gebiede nodig om te loop. Dié wat ons inkry, moet vier tot agt uur per dag gaan stap.”

Nóg een van talle pasiënte by die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital. Dié ses maande oue otter is deur die Dierebeskermingsvereniging gekonfiskeer nadat sy eienaar met hom aan ’n halsband in ’n winkelsentrum geloop het. Foto: Zukhanye Mtebele

Volgens Lourens kry dié soogdier ook net een kleintjie per jaar.

Sy loer na ’n geskubde pasiëntjie in ’n houtkrat wat rondskuifel, sy lang tong vir sy besoekers uitsteek en dan weer in ’n bal oprol.

“Dié ietermago is een van baie wat deur die polisie gekonfiskeer word. Teen die tyd dat ons hulle kry, was hulle al vyf dae tot drie weke sonder kos en water in ’n sak. Dié een was gelukkig. Ons het hom ná ’n week gekry – dan is die kanse op herstel 100%. Hy het longontsteking van spanning gehad, maar is nou gesond. Ons wag net vir ’n permit voordat ons hom weer in die natuur gaan vrylaat.”

Dié hospitaal in Johannesburg het verlede jaar 42 ietermago’s behandel.

Sodra die dier by die hospitaal aankom, moet hy liggies verdoof word.

“Geen mens kan hom self ooprol nie.”

Dr. Karin Lourens saam met een van haar pasiënte. Foto: Facebook

Daar word X-strale geneem om te bepaal of hy longontsteking of pankreatitis het, en dan moet hy aansterk. Wanneer ’n ietermago te swak is om self te eet, voer Lourens en haar span vrywilligers hom met behulp van ’n voerbuis.

Die diere word later met opsporingskyfies vrygelaat sodat hulle vir nog ’n ruk dopgehou kan word om te sien of hulle goed herstel het. Indien nie, word hulle maar weer teruggebring na die hospitaal vir verdere behandeling.

Hulle kan ook nie enige plek vrygelaat word nie.

“ ’n Reservaat se trip wiresis die tweede grootste oorsaak van sterftes,” sê Lourens.

Lourens se navorsing oor dié dier is ’n eerste ter wêreld.

“As jy ’n kat na die veearts toe neem en hulle trek bloed, kan hulle sê die kat makeer dit of dat, want daar is genoeg data beskikbaar. Met die ietermago’s is dit glad nie die geval nie. Die diere word al hoe meer deur ons (veeartse) behandel en nou trek jy sy bloed, maar waarmee vergelyk jy dit? Wat is normale bloedvlakke in die Afrika-ietermago?

“Sy rooibloedselle se grootte is ná aan die van ’n koei en dan stam hy nog van ’n kat af en is ’n karnivoor. So ’n ietermago val in ’n kategorie van sy eie. Dis basies ’n geskubde kat met koeibloed en ’n sterk varkvel,” skerts sy.

Meer oor:  Omgewing  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.