Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KYK: Vloedwater bereik Upington

Dit is die eerste keer sedert 2011 dat die Oranjerivier se watervlak met meer as 3 m gestyg het.

Terwyl rosyntjieboere van Kanoneiland langs die Oranjerivier Woensdagoggend begin het om druiwe op die droogbane te pak vir die jaarlikse oes, het die rivier se vlak Woensdagoggend van 2,3 m vinnig tot 3,1 m gestyg.

Water wat vanaf verlede Woensdag vanuit die Bloemhofdam losgelaat is en wat die watervlak van die Vaal- en Oranjerivier oor die naweek laat styg het, het Woensdagoggend omstreeks 06:00 in Upington aangekom.

Die Oranjerivier se vlak het Woensdag vanaf 2,3 m tot 3,1 m in Upington gestyg. Foto: Anena Burger

Opgewonde inwoners het deur die dag op die motorbrug oor die Oranjerivier stilgehou om te kyk hoe die rivier vinniger vloei en styg.

Teen 07:30 het die rivier se vlak tot 2,7 m gestyg en teen 08:50 was dit 2,8 m.

Teen 14:45 het die rivier se vlak reeds tot 3,1 m gestyg en was baie van die plantegroei wat hul oor die jare op die eilande in die rivier gevestig het, onder water.

Die Bloemhofdam wat teen Vrydag water teen 803 kumek (kubieke meter per sekonde) losgelaat het, het teen Dinsdag die loslating na 598 kumek verminder.

Die Oranjerivier se vlak het Woensdag vanaf 2,3 m tot 3,1 m in Upington gestyg. Foto: Anena Burger

Die dam was Vrydag nog ’n 111% vol, maar teen Woensdag 104,3 %.

By Schmidtsdrift langs die Vaalrivier in die Noord-Kaap het die rivier ’n hoogte van 4,834 m bereik en teen 942,14 kumek gevloei.

By Prieska, wat na die samevloeiing van die Vaal- en Oranjerivier geleë is, het die Oranjerivier Woensdag tot 3,235 m gestyg en teen 1 132 kumek gevloei.

Marna Steenkamp het die foto van 'n sterk bui wat sowat 20 km vanaf Brandvlei uitgesak het, geneem. Foto: Marna Steenkamp
water

By Upington het die Oranje nog vroegoggend teen 436 kumek gevloei.

Die water vloei nou na Keimoes en sal na verwagting Donderdagoggend in Kakamas wees en daarna by die Augrabies-waterval aankom.

Intussen het dit ook Woensdag in talle dorpe in die Noord-Kaap gereën.

Marna Steenkamp sê ’n sterk bui het sowat 20 km voor Brandvlei vanaf Calvinia uitgesak.

Chantel Fourie van Sutherland het ’n video van die reën in die Karoo-dorp gestuur en gesê die reën sak mooi uit.

By Dikathong naby Kuruman het ’n wolkbreuk veroorsaak dat inwoners van die informele nedersetting se huise verspoel is.

Kinders van die Dithakong-nedersetting naby Kuruman staan enkeldiep in die water nadat 'n wolkbreuk Woensdag uitgesak het. Foto: Facebook
Keenan Plaatjies kyk Woensdag hoe die Oranjerivier onderdeur die motorbrug by Upington vloei. Foto: Anena Burger

Dit het ook omstreeks 15:00 saggies in Upington begin reën.

Volgens ’n amptenaar van die departement van water en sanitasie in Upington, wat vroegoggend reeds die vlak van die water gemeet het, sal nog reën wat in die opvangsgebied van die Vaalrivier val, wel ’n invloed op die styging van die vloedwater hê.

Die water sal egter ’n paar dae neem om Upington te bereik.

Hy sê die departement hou wel die Van der Kloof-, Gariep- en die Bloemhofdam fyn dop.

Die Van der Kloof-dam is tans 82% vol terwyl die Gariepdam 98,6% vol is.

Sowat 140 mm reën het Maandag in die Hoopstad-omgewing in die Vrystaat uitgesak wat by die opvangsgebied van die Van der Kloof-dam geleë is.

Meer oor:  Oranjerivier  |  Upington  |  Vloedwater  |  Reën  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.