Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KZN-storms: Dodetal kan styg
’n Verkeersopeenhoping Dinsdag by die Marianhill-tolhek in KwaZulu-Natal weens die gure weer. Foto: Twitter

Die getal mense wat die afgelope twee dae in die hewige storms in KwaZulu-Natal dood is, kan dalk verder styg, het Lennox Mabaso, woordvoerder van die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele sake, Dinsdag gesê.

Minstens 23 mense is dood in die stormweer wat eThekwini in KwaZulu-Natal Maandag getref het.

“Die nooddienste in die provinsie is oorval met oproepe van mense wat in nood verkeer. Ons noodspanne werk onverpoosd om almal te help,” sê Mabaso.

Benewens die sterftes is 32 mense beseer toe paaie en riviere oorstroom en huise in Durban en die omliggende gebiede inmekaargestort het. “Die meeste mense is in Chatsworth, Umlalazi en New Germany dood. Dit sluit twee kinders van onder sewe jaar oud in,” sê Mabaso.

Die oorstroomde Stapleton-pad in Pinetown, Durban.Foto: Twitter

Hy was nie seker oor die omvang van die skade wat deur die storm, wat na verwagting Woensdag sal voortwoed, aangerig is nie. “Die skade aan paaie, geboue en huise kan etlike miljoene rand beloop.”

Paaie in die provinsie wat oorstroom het sluit dele van die Higgins-hoofweg, die M4 waar dit by die N2 aansluit, die N2 Galleria, N2 Prospecton, die Clairwood-Sirdar-pad, Sometsu en Stanger asook die M25-hoofweg in.

Reddingswerkers het Dinsdagoggend die lyke van vier mense onder puin en modder gekry nadat verskeie huise Maandagaand in Ellen-straat in die Malvern-omgewing by Durban weens die swaar reënval ineengestort het.

Die oorledenes sluit twee volwassenes, ’n man en ’n vrou, en twee kinders, ’n baba en ’n kleuter, in.

’n Modderstorting op die N3-hoofweg naby Shongweni.Foto: Twitter

“Noodwerkers en paramedici op die toneel soek steeds na drie mense wat deur hul familielede as vermis aangemeld is,” het Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, gesê.

Die lyke van dié drie mense is later die dag gevind.

’n Man van in sy twintigs is in West-straat, Overport, dood toe die huis waarin hy woon, ineengestort het.

“Noodwerkers kon daarin slaag om sy 70-jarige ma uit die puin te red,” het Jamieson gesê.

Die lyk van ’n 15-jarige meisie is Dinsdagoggend in Wiltshire-weg gekry nadat sy in ’n stroom in Marianhill verdrink het. “Die gemeenskap kon twee ander kinders red wat ook deur die stroom meegesleur is.”

* Volgens supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, is vyf ongelukke Maandagoggend in Pretoria aangemeld. “Dié ongelukke, wat vermoedelik deur die swaar reën veroorsaak is, het op die Mabopane-hoofweg, R21, Jean-weg, die Ben Schoeman-hoofweg en die N1-Suid by Rigel-laan gebeur. Mense is beseer, maar daar was geen sterftes nie,” sê Mahamba.

* ’n 14-jarige meisie is Maandagaand omstreeks 20:00 dood in ’n ongeluk waarby vyf voertuie betrokke was op die N3 naby Inchanga in KwaZulu-Natal. Nog nege mense het geringe tot matige beserings opgedoen.

* ’n 62-jarige man is Maandagaand omstreeks 20:00 dood en vyf mense beseer toe ’n bakkie en ’n motor op die N12-hoofweg buite Potchefstroom in Noordwes gebots het.

’n Gedeelte van Rockview-straat in Amanzimtoti wat waar ’n sinkgat weens die baie reën ingeval het. Foto: Twitter

Meer oor:  Ethekwini  |  Kwazulu-Natal  |  Storms  |  Dodetal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.