Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KZN-vloede: Dodetal nou 85, oorlewendes in nood

Die dodetal in die dodelike vloede en modderstortings het teen Dondermiddag tot 85 gestyg, berig News24 . 

Nomusa Dube-Ncube, die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, sê gebiede in die eThekwini -metro en die Ugu- en King Cetshwayo-distriksmunisipaliteit word die ergste geraak.

Sy sê as die 13 mense wat verlede Donderdag net voor die Paasnaweek dood is toe 'n kerk in Empangeni ineengestort het, bygetel word, is die amptelike dodetal 85.

Teen Donderdagmiddag was reddingspanne steeds op soek na slagoffers by Tshelimyama in Hillcrest, waar 'n voertuig weggespoel het, en by die Mega Philani-brug in Umlazi, waar 'n persoon deur die vloedwater meegesleur is. 

Reddingswerkers op die toneel in Westcliff naby Durban waar ’n grondwal agter ’n huis weens die hewige reënneerslae Maandag meegegee het. Foto: Verskaf
Netwerk24Foto: Verskaf

Die inwoners in die gebiede wat die ergste geraak is gaan nog lank die vernietigende impak van die vloede voel, het dr. Imtiaz Sooliman,  stigter van die organisasie Gift of the Givers, Donderdag gesê.

“Die grootste prioriteit is om klere, kos en huisvesting aan die vloedslagoffers te gee. Dit is die korttermyndoelwit,” sê Sooliman, wat by die reddings- en opruimingswerk in die provinsie betrokke is.

“Vrywilligers het brood en sop aan die inwoners van die Masinenge- informele nedersetting naby Margate gegee nadat hul hutte en die meeste van hul besittings weggespoel het.”

Volgens Sooliman is ’n skoolterreinopsigter in Westcliff Maandag dood toe ’n wal agter sy huis weens die hewige reënneerslae meegegee het.

“Agt mense is in die grondstorting dood en nooddienswerkers het Dinsdag en Woensdag ure lank gesukkel om by hul lyke uit te kom.”

Sooliman meen die mense wat die ergste deur die ramp geraak word, is dié wat in hutte en HOP-huise woon.

Gift of the Givers-vrywilligers het ook Donderdag hulp verleen aan inwoners van die Bottlebrush- informele nedersetting naby Chatsworth waar 80 huise weggespoel het. Sowat 200 mense is haweloos gelaat.

Wendy Conde, ’n inwoner van Umtentweni, is Dinsdag dood toe haar motor deur vloedwater meegesleur is nadat sy die middag van haar werk in Shelly Beach huis toe gery het. “Wendy was besonder gelief onder die gemeenskap, veral in kerkkringe,” sê ’n familielid.

Die 77-jarige Conde, voorheen van Johannesburg, het as skoonheidskundige by ’n apteek in Shelly Beach gewerk. “Ons vermoed dat Wendy wou omdraai toe sy in al die chaos op die paaie ’n afrit langs die N2-tolpad gemis en toe in die stroom beland het.” Sihle Zikalala, KwaZulu-Natal se waarnemende premier, het Donderdag gesê dat al die paaie in die provinsie wat weens die vloedwater beskadig is, so spoedig moontlik herstel sal word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.