Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KZN-vloede: Mense soek geliefdes in lykhuise

Die dodetal weens vloede en oorstromings in KwaZulu-Natal het Donderdag tot meer as 70 gestyg met talle mense wat steeds vermis word of dakloos gelaat is nadat stormweer vroeër vandeesweek chaos en verwoesting op verskeie plekke in die provinsie gesaai het.

“Die swaar weer het opgeklaar – so ek verwag dat ons vandag meer vordering met die onderskeie noodlenigingsoperasies sal kan maak,” het Lennox Mabaso, woordvoerder van die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele sake, Donderdag gesê.

Grootskaalse skade is deur die storm aan huise in Marianhill, KwaZulu-Natal, aangerig.Foto: Twitter

Volgens Mabaso het net ’n handjievol mense Woensdag na staatslykhuise in die provinsie gegaan om hul geliefdes wat in die vloede dood is uit te ken. “Ek vra mense om vandag te gaan en dié hartseer proses af te handel. Daar heers nog groot verwarring, veral onder mense wie se geliefdes nog vermis word.”

Mabaso sê minstens 1 000 mense in gebiede soos Umlazi, Chatsworth en Amanzimtoti is dakloos. Reddingswerkers op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak doen hul bes om by diegene wat hulp nodig het uit te kom. Meer as 200 huise is beskadig, waarvan talle inmekaargestort het.

Die publiek word versoek om klere, komberse en kos aan vloedslagoffers by die onderskeie rampbestuursentrums in Durban, Port Shepstone en Empangeni te skenk. Skenkings kan ook by Gift of the Givers se kantoor in Durban afgelewer word.

Volgens Imtiaz Sooliman, stigter van dié rampverligtingsorganisasie, word net nuwe klere en komberse aanvaar. Ander items wat vloedslagoffers dringend benodig, is onder meer matrasse, skooluniforms, skryfbehoeftes, skoene en toiletware.

“Ons is platgeslaan deur die groeiende dodetal,” het Sihle Zikalala, waarnemende premier van KwaZulu-Natal, Donderdag aan joernaliste gesê. “Ons is meegedeel dat die dodetal tot meer as 70 mense gestyg het, maar die finale syfer sal eers later vandag (Donderdag) bekend gemaak word,” het Zikalala gesê.

Intussen sit inwoners van verskeie woonbuurte in Durban sedert Maandag sonder water nadat vloedskade aan munisipale waterpype in onder meer Chesterville, New Germany, Mayville en Chatsworth aangerig is.

Pres. Cyril Ramaphosa het KwaZulu-Natal Woensdag besoek en onderneem om noodfondse beskikbaar te stel om inwoners in die rampgebiede by te staan.

Meer oor:  Kwazulu-Natal (Kzn)  |  Vloedskade  |  Dodetal  |  Vloede  |  Sterfgevalle  |  Stormweer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.