Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
La Niña kan droogte breek
La Niña
Te danke aan die weerverskynsel, La Niña wat tans aan die vorm is, is daar ’n groot kans dat Suid-Afrika baie goeie somerreën gaan kry. Foto's: Theo Jeptha

Daar is goeie nuus vir groot dele van Suid-Afrika wat onder erge droogte gebuk gaan.

La Niña is in die Stille Oseaan aan die ontwikkel – wat dui op goeie lente- en somerreëns. La Niña (die Spaans vir klein meisie) is die teenoorgestelde as ’n El Niño (klein seuntjie) wat gewoonlik lae reënval vir Suider-Afrika voorspel.

“La Niña is ’n weerverskynsel wat gepaard gaan met laer as normale seeoppervlaktemperature in die sentrale tot oostelike Stille Oseaan en wat bogemiddelde somerreënval vir die grootste deel van ons land kan bring,” sê prof. Francois Engelbrecht van die Global Change-instituut by Wits.

Engelbrecht, ’n professor in klimatologie, sê La Niña is meestal goeie nuus wat watersekerheid en landbou in Suid-Afrika betref.

“Die invloed van La Niña is die sterkste oor die noordoostelike gedeeltes van Suid-Afrika en Zimbabwe, maar strek wyer en dek die ganse somerreënvalgebied van Suid-Afrika.”

Hy sê die verskynsel raak alle dele van die land wat in die somer reën kry, maar het nie ’n wesenlike invloed op winter­reënvalstreke nie.

Engelbrecht sê seeoppervlaktemperature in die sentrale tot die oostelike tropiese Stille Oseaan beheer tot ’n groot mate klimaatvariasies (soos reënval) in groot dele van die wêreld. In die geval van Suid-Afrika bring La Niña dikwels wyd­verspreide reënval van Desem­ber tot Februarie. “Die afgelope drie jaar was die gemiddelde reënval ondernormaal oor bykans die hele Suid-Afrika. En dan was daar die geweldige droogtetydperk van 2015-’16, as gevolg van die sterkste El Niño wat nog gemeet is.”

Daar is hoop vir talle droogtegeteisterde gebiede in Suid-Afrika.

Hy verduidelik El Niño ontstaan wanneer laagdrukstelsels oor die warmer water van die tropiese Stille Oseaan vorm wat dan sirkulasiepatrone wêreldwyd ontwrig. Dit veroorsaak hoëdrukstelsels in Suid-Afrika in die somer wat reënval onderdruk.

“Met La Niña veroorsaak die kouer watertemperatuur sterker hoogdrukstelsels oor die oostelike Stille Oseaan en gee aanleiding tot meer gereelde laagdrukstelsels oor die binneland van Suid-Afrika – wat meer reën beteken.”

In die Stille Oseaan wissel dié verskynsels mekaar histories af in siklusse van twee tot sewe jaar, met “neutrale” jare tussenin.

La Niña skep egter ook ’n groter kans dat tropiese siklone oor die binneland van Suider-Afrika kan beweeg, in die besonder oor Mosambiek en Zimbabwe, sê Engelbrecht.

Die nuus van La Niña volg dae nadat die Nelson Mandelabaai-metro in die Oos-Kaap vandeesweek aangekondig het dat hulle “dag zero” bereik het wat watervoorsiening betref.

Die vyf damme – Kouga, Churchill, Impofu, Groendal en Loerie – wat die gebied voorsien, se gekombineerde damvlakke is tans minder as 19%. Dele van Port Elizabeth het nou nie heeldag meer water nie en moet met watertenks van water voorsien word.

Engelbrecht sê dis moeilik om te voorspel of La Niña die Baai uit die droogte gaan help, maar die kanse is beter as gewoonlik vir normale tot bonormale reënval van Desember tot Februarie. Volgens weather-atlas.com kry Port Elizabeth heeljaar reën, maar dis gewoonlik natter in die winter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.