Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Laaste Knysna-olifant waarskynlik in 1970 gebore

Die enigste oorblywende olifant in die Knysna-bos in die Suid-Kaap is waarskynlik in 1970 gebore en is heel moontlik die laaste olifantkalfie wat in Knysna gebore is.

Die olifante Champion, Elderberry en ’n kalf (waarskynlik Oupoot) in 1977 deur E.M. Williams in die Garden of Eden-gebied afgeneem. Foto: E.M. Williams

Dit is volgens ’n artikel oor die olifante se geskiedenis wat deur Ryno Joubert geskryf is. Joubert is ’n onderwyser van Benoni in Gauteng met ’n voorliefde vir die Knysna-bos en sy olifant(e). Hy is ook ’n administratiewe beampte van die Facebook-groep The Knysna Elephants and Forests.

Sanparke het verlede Woensdag sy navorsing bekend gemaak dat daar net een olifantkoei in die Knysna-bos met behulp van kamerastrikke gevind is.

Volgens Joubert het Nick Carter, ’n professionele wildbewaarder, van Februarie 1969 tot Januarie 1970 met ’n opname van die Knysna-olifante tien van hulle getel.

Champion en die matriarg op 1 Mei 1969 voor Oupoot se geboorte in Harkerville deur Nick Carter afgeneem. Foto: Nick Carter

Die meeste van die diere was al redelik volwasse of oud.

Die jongste olifant wat Carter gevind het, was vyf jaar oud.

Teen die einde van die opname, in Maart 1970, is ’n kalfie gebore wat die getal op 11 te staan gebring het. Die laaste oorblywende Knysna-olifant, oftewel Oupoot, soos sy deur Sanparke gedoop is, is waarskynlik die einste kalfie wat in 1970 gebore is.

Volgens getuienis was dié geboorte die laaste van ’n olifant in Knysna wat op rekord was. Daar was gerugte dat ’n kalfie in 1989 gebore is, maar geen getuienis daarvan is gevind nie.

Volgens Joubert beteken dit Oupoot word in Maart vanjaar 49 jaar oud. Haar pa, wat Champion deur Carter gedoop is, was die grootste olifant wat hy in sy opname in die Knysna-bos gevind het. Champion was sowat 3,4 m hoog.

In 1983 is die skelet van ’n ou bul in Harkerville, suid van die N2, gevind deur mense wat varings geoes het. Dave Reynell, ’n afgetrede bosbou-amptenaar, het die skelet vergelyk met die inligting oor Champion wat deur Carter gevind is. Hy het tot die slotsom gekom dat dit Champion se oorskot is. Volgens Reynell was die bul twee tot drie jaar dood voordat sy oorskot gevind is. Die skelet word in die Forest Legends-museum in Diepwalle uitgestal.

Volgens Joubert is Oupoot se ma waarskynlik die olifant wat die matriarg van die trop was. Sy is die laaste keer in 2000 (toe sy sowat 60 jaar oud was) deur die skrywer Lyall Watson gesien toe hy op die afgrond van klowe aan die strand by Harkerville na die see gestaan en kyk het.

Carter het dié olifant Elderberry in sy opname genoem. Elderberry (oftewel die matriarg) het geboorte gegee aan ’n olifantkalf wat in 1968 dood is toe ’n boom op hom in Harkerville geval het en toe weer aan Oupoot in Maart 1970.

’n Foto wat by Joubert se artikel van 1977 verskyn het, wys hoe Champion, Elderberry en ’n kalf (waarskynlik Oupoot) suid van die N2 in die Garden of Eden-gebied wei.

Lees Joubert se artikel hier.

Die matriarg in 1994 deur Johan Huisamen afgeneem. Foto: Johan Huisamen
Champion se skelet in die Forest Legends Museum in Diepwalle. Foto: http://littlewoodgarden.blogspot.com/2015/02/knysna-forest-tour-und-hisoric-tour.html
Dave Reynell by die oorskot van die ou bul (Champion) wat in 1983 ontdek is.Foto: Verskaf deur Dave Reynell

Meer oor:  Knysna  |  Olifant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.