Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Lakenvlei: ‘Groep myn onwettig'

Grondeienaars van die Lakenvlei Bewaarde Gebied veg al agt jaar lank feitlik met hul rug teen die muur teen ’n steenkoolmyn wat “reg in die middel” van die Lakenvlei Bewaarde Gebied is.

Volgens die omgewingsgroep Save Mpumalanga is Patrick William Bower (PWB) se steenkoolmyn in die opvangsgebied van die Elandsrivier. Die groep sê ingevolge die Mpumalanga-biodiversiteitsplan word die opvangsgebied van die Elandsrivier as “onvervangbaar” beskou.

’n Deel van die myn. Regs op dié foto kan die vleilande gesien word. Foto: VERSKAF

Die Elandsrivier vloei in die Krokodil- en die Olifantsrivier. Dit is albei groot waterbronne wat uiteindelik deur Mosambiek tot in die Indiese Oseaan vloei.

“Hulle verstaan dus nie hoe PWB ’n mynreg én ’n waterlisensie vir sy myn in dié ekologies sensitiewe gebied gekry het nie.”

’n Woordvoerder van die Greater Lakenvlei Protected Environment (GLPE) het Maandag gesê grondeienaars vrees nou dat dié bewaarde gebied, wat in April 2017 geproklameer is, sy status kan verloor.

Lakenvlei beslaan sowat 14 300 ha grasveld en vleie en is een van die laaste broeiplekke van Suid-Afrika se drie erg bedreigde kraanvoëlspesies.

Volgens Werner Krynauw, ’n plaaslike inwoner, is Lakenvlei gesoneer as landbougebied. PWB se myn moet dus gehersoneer word na mynbougrond.

Peter Ardene, sekretaris van die GLPE, sê die PWB-myn is beslis nie na mynbougrond gehersoneer nie. Die hersonering is die taak van die Nkangala- plaaslike owerheid met sy hoofkantoor in Middelburg. Volgens Ardene het die GLPE die Nkangala- plaaslike owerheid om inligting oor die hersonering genader.

“Nkangala wou aanvanklik geen inligting oor PWB aan ons gee nie. Nadat ons hulle met die hof gedreig het, het ’n amptenaar erken daar bestaan geen hersoneringsdokumente nie.”

Die GLPE voer dus aan PWB is besig om onwettig te myn.

Netwerk24 probeer al langer as ’n week om PWB in die hande te kry om kommentaar. Hy het op geen boodskappe gereageer nie.

PWB het in 2017 by ’n vlei met sy mynbedrywighede begin nadat die departement van water en sanitasie ’n waterlisensie in 2015 aan hom uitgereik het. Hy het destyds sy bedrywighede “tydelik” gestaak toe die gemeenskap teen die waterlisensie appèl aangeteken het.

Nomvula Mokonyane, destyds nog minister van water en sanitasie, het die waterlisensie se opskorting opgehef sonder om enige redes daarvoor te gee.

Ardene sê dit wil voorkom asof die owerheid nie teen PWB wil optree nie.

Oxpeckers, ’n groep omgewingsjoernaliste, het verlede jaar berig PWB is ook in besit van ’n mynreg. Dít is glo in 2012 aan hom uitgereik.

Volgens Ardene het die gemeenskap reeds planne ingestel om die gebied as ’n voëlkykersparadys te bemark, perdryroetes uit te merk en blombesigtigings- en staproetes te vestig. “Ons wil ook vlieghengelaars hierheen lok. As hier ’n steenkoolmyn in die middel van Lakenvlei is, gaan al hierdie planne platval.”

Melanie Heuschen, PWB se regsverteenwoordiger, het Maandagmiddag laat in ’n brief aan Netwerk24 gesê dié myngroep is in besit van ’n wettige mynlisensie en hy word bedryf binne die raamwerk van al die wette.

Sy sê as Netwerk24 voortgaan om ’n berig te publiseer wat onwaar­hede en lasterlikhede bevat, sal PWB regstappe teen die joernalis doen.

Ayanda Shezi, woordvoerder van die departement van minerale bronne, sê minerale wetgewing verbied mynbou in bewaarde gebiede, buiten as die minister tevrede is dat die “ontwikkeling volhoubaar en in nasionale belang is”.

Meer oor:  Mpumalanga  |  Steenkoolmyn  |  Bewaring  |  Omgewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.