Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Leeu byt motorband stukkend in Krugerwildtuin

Die koning van die oerwoud het besluit hy moet self ondersoek instel toe die band van ’n voertuig in die Krugerwildtuin baie soos ’n buffel ruik.

’n Vinnige byt na die band het bevestig dit is net ’n stuk rubber wat vroeër deur buffelmis gery het.

Kobus de Beer (66) van Klerksdorp se lot was egter verseël toe sy voertuig se band net daar afblaas en hy daar in die wildtuin sy band moes vervang.

“Dit was vreesaanjaend,” sê De Beer oor die voorval wat reeds op 5 November naby die Satara-ruskamp gebeur het. Hy het sy verhaal Dinsdag op ’n groep genaamd Krugermania – A page for all Krugerholics gedeel.

Die foto wys hoe ’n leeuwyfie voor die voorwiel van Kobus de Beer se voertuig lê en slaap terwyl ’n leeumannetjie aan die agterwiel ruik. Dit was oomblikke voordat hy die agterwiel sou byt.
Leeus van die Ngotso-trop baljaar in die pad ná die reën.

De Beer sê die gebeure van daardie dag bly hom by.

“Dit het baie gereën die dag en ons het leeus van die Ngotso-trop naby Satara gekry,” sê De Beer wat die trop al baie lank volg en die wildtuin sedert sy kindertyd besoek.

“Een van die wyfies het teen my voorwiel aan die slaap geraak. ’n Mannetjie het later daar aangekom en eers aan my motor se agterwiel geruik nadat ek vermoedelik vroeër deur buffelmis gery het. Toe het hy sy tande in die band ingesink en dit het afgeblaas. Dit het amper gelyk asof die leeu skuldig voel toe hy besef dit is nie eintlik ’n buffel nie.”

De Beer sê hy moes die band vervang, maar het uit vrees vir die leeus eerder ’n ent weggery.

’n Leeumannetjie staan voor Kobus de Beer se voertuig.
Die leeumannetjie kyk verleë na die voertuig nadat hy die band stukkend gebyt het.
Kobus de Beer sê dit het kompleet gelyk asof die leeumannetjie skuldig voel nadat hy die band stukkend gebyt het.

“Ek moes my kanse opweeg. ’n Trop leeus of ’n trop buffels wat ’n entjie weg gestaan het. Ek kies toe maar eerder die buffels,” skerts De Beer.

Hy het aanvanklik nie die regte gereedskap gehad om sy band om te ruil nie en nog ’n toeris het hom te hulp gesnel.

Nadat die band geruil is, het De Beer saam met sy vriendin, wat saam met hom in die motor was, rustig verder gery.

De Beer het op die geleentheid in November 125 leeus in 12 dae gesien en sê hy is reeds opgewonde om binnekort weer die wildtuin te besoek.

Meer oor:  Kobus De Beer  |  Klerksdorp  |  Krugerwildtuin  |  Leeu  |  Motorband
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.