Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Leeu-kwessie: Boere kyk kat uit boom

Belanghebbendes in die leeubedryf is dit eens dat daar nog baie water in die see moet loop voordat die regering sy besluite oor leeus en ander wilde diere in aanhouding kan afdwing.

Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, het Sondag ’n verslag uitgereik wat die einde van die leeubedryf kan beteken.

Die aanhou van leeus, olifante, luiperds en renosters sal streng beheer word en die leeubedryf moet gesluit word.

Geblikte leeus in ’n kampie waar toeriste hulle kan besigtig. Foto: Bloodlions

Prof. H.O. de Waal, ’n leeukenner aan die Universiteit van die Vrystaat, sê hy verwag dat die belastingbetaler nou gaan betaal vir hofgedinge wat op pad is.

“Onthou, die boere het binne die wet opgetree en permitte gehad om leeus aan te hou. Plaas jouself in die boer se skoene, hy plant ’n boord en onderhou dit vir jare en dan kom die regering en sê hy moet die bome uitkap.”

Hy sê boere het toegelaat dat die leeus te vinnig aanteel, maar dit is iets wat die regering moes beheer met permitte.

LEES OOK: Gruwels teen leeus op 'n einde

De Waal sê natuurbewaring moes die teel van leeus in aanhouding beperk het en hulle is daaroor gewaarsku.

Hy sê niemand weet werklik hoeveel leeus daar in aanhouding is nie, maar dit is heelwat meer as wat in staatsbesit is.

Getalle word op 8 000 tot 12 000 in aanhouding geraam.

De Waal sê die verslag wat deur Creecy uitgereik is, is ondeurdag en dat baie mense hulle aan die paneel onttrek het omdat hulle gevoel het die besluitnemingsproses is eensydig en dat daar reeds vooraf ’n besluit geneem is.

“Daar was bitter min mense met wetenskaplike kennis wat deelgeneem het aan die proses.”

De Waal vra ook wat gaan die wêreld nou sê as al die leeus in aanhouding voor die voet van kant gemaak word.

Wat gaan met die karkasse gebeur en gaan die beendere uitgevoer mag word, wil De Waal weet.

“Dit is jammer dat die ikoniese Afrika-leeu, die koning van die diere, met soveel onbeholpenheid hanteer word.”

Hy sê mense moet ook vra wie die lekkerste lag wanneer iets soos byvoorbeeld die handel in renosterhoring of ivoor verbied word.

Dit bevoordeel smokkelaars en wildstropers.

“Dit gaan nie so maklik wees nie, ek wil sien of daar iets van kom,” sê Richard Parker, ’n sakeman en voormalige leeuteler van Bloemfontein, oor Creecy se planne.

Barbara Creecy Foto: Daily Sun

Parker sê hy het sy leeumannetjies laat steriliseer en besit nou net 16 leeus wat hy vir sy eie veiligheid aanhou.

Dit is baie duur om leeus aan te hou en hy reken dit kos ongeveer R3 500 per leeu per maand om die diere te versorg en van vleis te voorsien.

Gert Blom, ’n leeuboer, sê wat hom betref, is Creecy se verslag in dié stadium net ’n voorlegging en hy kan nie sien dat al die diere van kant gemaak sal moet word nie.

“Ons gaan nie nou al op hol raak nie, want dit wat hulle in die verslag sê, is net ’n klomp snert. Hulle het met geen roofdierteler gesels nie.”

Blom sê die regering en natuurbewaring is so onbevoeg en korrup dat as dit nie vir boere was nie, baie van die roofdiere dalk nou al uitgewis sou gewees het.

Hy sê leeus se handelswaarde is lankal tot niet en daar is boere wat die diere verniet weggee.

“As ons die regering kon vertrou om al ons diere te bewaar, was dit een ding, maar ons moet self diere bewaar.”

Blom sê hy glo daar is soveel as 20 000 leeus in private besit en dat Creecy se planne daartoe kan lei dat leeus in wildtuine en reservate uitgewis word.

“Wie verskaf die leeubene as dit nie van boere kom nie? Dan kom dit uit reservate.”

Mense is emosioneel oor die leeubeendere, maar die behoefte is steeds daar en hy voorspel dat die onwettige jag van leeus skerp sal toeneem.

Meer oor:  Barbara Creecy  |  Leeu  |  Leeubedryf  |  Geblikte Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.