Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Lig aasvoël-restaurante om jakkalse te fnuik
Kransaasvoëls is in Julie 2018 deur een van twee versteekte kameras by die Golden Gate-aasvoëlrestaurant afgeneem. Die kameras is verskaf deur die Sanparke-ereveldwagters. Foto: Sanparke-ereveldwagters

Jakkalse wat aasvoëls se kos wegdra, word dalk binnekort gefnuik as dié voëls se voerplek na ’n spoggerige “lugrestaurant” opgradeer word.

Navorsers van die Universiteit van die Vrystaat (UV) kyk na “lugrestaurante” as een van die opsies om aasvoël-restaurante doeltreffender te maak.

’n Plan is bedink om die voerplek vir die bedreigde baard- en kransaasvoël in die Golden Gate Hoogland Nasionale Park in die Oos-Vrystaat van die grond te lig om ander aasdiere weg te hou.

So sal jakkalse van die feesmaal by tradisionele aasvoël-restaurante, waar karkasse vir dié voëls uitgesit word, afgeweer word.

Die park sit karkasse op ’n gereelde grondslag vir die aasvoëls uit, afhangende van die beskikbaarheid van medikasievrye karkasse wat naburige boere skenk. Dit word andersins uit die park gekry.

Prof. Aliza le Roux van die UV se departement dierkunde en entomologie en lid van die Afromontane-navorsingseenheid op die UV se Qwaqwa-kampus, en Agnes Mkotywa, wat verlede jaar haar meestersgraad in dierkunde verwerf het, het ’n gevallestudie oor die aasvoël-restaurant in dié park naby Clarens gedoen.

Dit het nie gelyk of die aasvoël-restaurant wel dié voëls lok nie en die navorsers wou bepaal of dit die geval is.

Le Roux en Mkotywa wou bepaal of die aasvoël-restaurant daarin slaag om die voëls te beskerm en toeriste te lok.

’n Rooijakkals vreet aan die karkasse wat by die aasvoël-skuiling in Golden Gate uitgesit is. Foto: Christo van Staden

Jaar se data ontleed

Die Sanparke-ereveldwagters het die aasvoëlskuiling sowat sewe jaar gelede by die aasvoël-restaurant opgerig waar besoekers aan die park kan kyk hoe dié voëls die karkasse verslind.

Die park het wegsteekkameras by die voëlskuiling wat op die voerplek uitkyk en die navorsers het ’n jaar se data ontleed om ’n patroon te bepaal.

“Daar was jakkalse by elke karkas. Daar was nie altyd aasvoëls nie,” sê Le Roux.

Sy sê dat die jakkalse die kos opvreet, is ’n groter probleem as dat hulle fisiek ’n gevaar vir die aasvoëls inhou.

“Die park oorweeg dit om karkasse elders uit te plaas, sonder om dit met toerisme te kombineer. Dit sal ook meer onvoorspelbaar vir die jakkalse wees,” sê Le Roux.

Dié is een van talle aasvoël-restaurante in die land.

Sy is nie seker hoe erg aasvoël-restaurante elders met dieselfde probleem sukkel nie.

“Daar is nie baie sulke studies wat spesifiek kyk na hoe effektief so ’n restaurant is nie. Die meeste restaurante is op private grond en nie noodwendig in openbare bewaargebiede nie.”

Navorsers aan die UV stel onder meer ’n platform voor vir die aasvoël-restaurant in die Golden Gate Hoogland Nasionale Park om te verhoed dat die jakkalse die aasvoëls se kos vreet. Foto: Leonie Bolleurs

Le Roux sê een van die voorstelle is om ’n platform vir die karkasse op te rig waarop die jakkalse nie kan klim nie en waar die aasvoëls kan land.

Daar bestaan nog nie spesifikasies vir so ’n platform nie.

Sy sê die platform sal minstens 2 m hoog moet wees en die oppervlak sal redelik groot moet wees om minstens tien aasvoëls daar te laat land.

’n Draadheining om die gebied waar die karkasse gelos word, is ook ’n opsie.

Sy meen egter die platform sal nie so onooglik vir toeriste wees soos ’n draadheining nie.

Sy sê een van die groot redes waarom aasvoël-getalle oor die vasteland heen afneem, is omdat mense karkasse vergiftig juis om die jakkalse by te kom. Die aasvoëls vrek dan daarvan.

Aasvoëls kry nie ’n klomp kuikens op ’n slag nie en daarom neem dit ’n ruk voordat die getalle styg.

Die voëlskuiling in die Golden Gate Hoogland Nasionale Park waar besoekers kan kyk hoe die aasvoëls aan die karkasse vreet. Foto: Leonie Bolleurs

Restaurant ‘misluk in doel’

Paul Colditz, nasionale voorsitter van die Sanparke-ereveldwagters, sê die aasvoël-restaurant het aanvanklik goed gewerk totdat die jakkalse die plek ontdek het.

“Die restaurant het nou in sy doel begin misluk, omdat die jakkalse die karkasse verskeur en wegvreet,” sê Colditz.

“Nou is die idee om ’n plan te maak om die jakkalse daar weg te hou sonder dat die natuur te veel versteur word.”

Prof. Aliza le Roux met die aasvoël-restaurant in die agtergrond.Foto: Leonie Bolleurs

Hy sê sou ’n platform opgerig word, sal die platform groot genoeg moet wees vir die aasvoëls om weer te kan opstyg.

“Hulle het ook maar soos ’n vliegtuig ’n aanloopbaan nodig om te kan opstyg.”

Dhiraj Nariandas, senior veldwagter by die park, sê dié voerplek vorm deel van ’n groter voedingsprogram van die Maloti-Drakensberg-oorgrensprojek, ’n inisiatief van Suid-Afrika en Lesotho.

Die aasvoëls vlieg heen en weer tussen Ongeluksnek in die Oos-Kaap en Golden Gate.

Hy sê alle aasvoëls is bedreig, maar die baardaasvoël word die ergste bedreig.

Aasvoëls speel ’n belangrike rol om van karkasse ontslae te raak en te verhoed dat siektes soos bek-en-klouseer en miltsiekte uitbreek.

Volgens Nariandas sal twee tot drie baardaasvoëls en tussen tien en 15 kransaasvoëls gemiddeld per dag by die voerplek gesien kan word.

Dit is vir die park kommerwekkend dat die jakkalse die karkasse vreet en dus het hulle die studie ondersteun.

“Op enige voerplek sal verskillende spesies om die voedselbron meeding. Dit kan tussen enige aasdiere gebeur.”

Nariandas sê die platform blyk lewensvatbaar te wees, maar daar moet nog oor die dimensies en estetika nagedink word.

Hy sê nog ’n opsie is ’n jakkalsbestande heining, maar dit sal ander wildspesies se beweging beperk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.