Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Luiperdrob op Milnerton al die pad van Antarktika

’n Luiperdrob van Antarktika, wat onlangs sy natuurlike ysige habitat tydelik vir die strande van Kaapstad verruil en by die Milnerton-strand aan land gekom het, het intussen na ’n onbekende plek aanbeweeg.

Die Kaapstad-metro het Woensdag die publiek gewaarsku om versigtig te wees en ’n afstand tussen hulself en die rob te hou nadat die rob op die strand by Milnerton gesien is.

Die luiperdrob lê lekker in die winterson op die strand by Milnerton, Kaapstad. Foto: Verskaf
Die stadsraad het met die departement van omgewingsake, bosbou en vissery vergader en ooreengekom die beste oplossing is om die rob uit te los.

Marian Nieuwoudt, burgemeesterskomiteelid vir omgewingsake, het in ’n verklaring die publiek herinner dat die luiperdrob gevaarlik is.

“So veel soos wat ons besoekers op ons strande verwelkom, wil ons die publiek in kennis stel dat luiperdrobbe roofdiere is wat as gevaarlik, veral vir kinders, beskou moet word.”

As ’n bykomende veiligheidsmaatreël het die Kaapstad-metroraad die gebied om die rob afgesper.

Strandlopers is ook gevra om seker te maak dat hul honde altyd halsbande op die strand dra.

Teen Donderdag het die luiperdrob egter die Kaapse kus verder verken en was Donderdagoggend nie meer op die strand te sien nie.

Niewoudt het Donderdag by navraag gesê munisipale amptenare het vroegoggend reeds na die strand gegaan om te gaan kyk hoe dit met die luiperdrob gaan.

“Hulle het ontdek hy het aanbeweeg. Ons verwag dat die rob sy opwagting iewers langs die kuslyn sal maak en ons bly op die uitkyk,” sê sy.

Die publiek sal oor die nuwe plek ingelig word sodra dit bekend is.

Dit is baie ongewoon vir ’n luiperdrob om vanuit sy natuurlike habitat in Antarktika op die veel warmer strande om die Kaap te beland, lui die verklaring.

Die Twee Oseane-akwarium het in ’n Twitter-inskrywing kommentaar gelewer dat die luiperdrob nie noodwendig beseer of siek is nie.

“Soms kom hulle aan wal om te vervel (’n nuwe pels te groei), so tot dan moet ons die dier ruimte gee. Die rob sal teruggaan wanneer dit gereed is,” lui die akwarium se twiet.

Die akwarium het ook in ’n twiet opgemerk die rob is maer omdat die dier so ver geswem het.

“Hy het waarskynlik al sy reserwes gebruik, maar in ruil daarvoor is die rob op ’n plek met minder roofdiere en minder mededingers vir kos,” lui die twiet.

Kaapstad-metro Twitter link: https://twitter.com/CityofCT/status/1166727367882133505

Meer oor:  Milnerton  |  Antarktika  |  Omgewing  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.