Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Maak jou maar reg vir ’n nuwe klimaat, ou maat!

Erger droogtes en vloede in die Oos-Kaap is die werklike gevolge van klimaatsverandering wat weerpatrone in dié provinsie dramatiese gaan verander, skryf Mariska Spoormaker ná ’n weerkundige se onlangse voorlegging aan boere.

Hugh van Niekerk. Foto: Mariska Spoormaker

Oos-Kapenaars sal moet gewoond raak daaraan dat droogtes soos die een waaronder die provinsie tans gebuk gaan, nie ’n ongewone verskynsel is nie, maar eerder die norm gaan word.

Langer en meer gereelde droogtes en minder, maar erger vloede is nie bangmaakpraatjies nie, maar ’n naderende werklikheid van klimaatsverandering in die Oos-Kaap, sê Hugh van Niekerk, streekbestuurder van die Suid-Afrikaanse weerdiens in dié provinsie.

Van Niekerk, wat boere by Agri Oos-Kaap se afgelope jaarkongres in Port Elizabeth toegespreek het, sê langtermynvoorspellings wys die provinsie se weerpatrone is aan die verander en mense sal daarby moet aanpas.

Boere sal moet regmaak vir minder reën en oorskakel na volhoubare boerderypraktyke vir droër toestande. Veeboere sal byvoorbeeld geharde diere soos bokke moet aanskaf en meer droogte-geharde gewasse moet verbou. Die verbouing van gewasse sal ook ’n hoogs tegniese onderneming word ten einde minder afhanklik te wees van seisoenale reënval.

Dis egter nie net boere wat geraak sal word nie. Baaienaars en die inwoners van omliggende dorpe sal ook hul watergebruiksgewoontes moet aanpas, want die reënval in die streek se opvangsgebiede gaan ook mettertyd minder word.

“Die aarde word sedert die 1900’s weens verskeie redes al hoe warmer. Aanvanklik was dit naby die grondoppervlak, maar nou is die warmer lug reeds baie hoër op.

“Die piek van berg Kilimandjaro (5 895 m bo seevlak) wat nie meer permanent met sneeu bedek is nie, is ’n goeie bewys hiervan.”

Die afgelope twee dekades het gletsers gekrimp, Groenland en Antarktika se yslae verminder en in die noordelike halfrond verminder die deklaag sneeu wat nog in die lente voorkom jaar na jaar.

Hoe meer vleilande opgeoffer word vir ontwikkeling, hoe meer sal die ondergrondse watervlakke daal en hoe warmer sal die grondtemperature word.

Droër hier . . .

Dis egter nie net in die buiteland dat dié tendense te bespeur is nie. “Die Karoo gaan nóg droër word, veral in die westelike gedeeltes. Toestande in die middel-Oos-Kaap sal ook droër en warmer word, veral gedurende die dag en baie koud in die nag wanneer daar nie wolke in die lug is nie. Verder noord sal gebiede tussen Steynsburg en Barkly-Oos weer meer reënval kry.”

Die grondliggende rede vir dié veranderende reënvalpatrone is ’n toename in warm oostelike winde, verduidelik Van Niekerk.

By die Wildekus bots dié wind nog teen kranse en berge en styg op en kondenseer, maar verder af waai die wind parallel met die bergreekse (soos die Baviaans- en Kougaberge) en styg die lug nie en kan daar geen kondensasie plaasvind nie. Geen kondensasie nie beteken geen verdamping en geen reën nie, vandaar dus die droër toestande in die ander binnelandse gebiede.

. . . en natter daar.

Graika

Daarenteen sal dié meer gereelde oostewinde reënval in die oostelike kusgebiede verhoog en ook storms meebring.

Mense wat in dié streke woon, behoort te belê in opgaartenks aangesien daar minder reën in die metropool se opvangsgebiede en Kouga-distrikte sal val. Munisipale watertoevoer sal dus onder groot druk wees.

Let ook maar op na ’n goeie afstand tussen jou boustrukture en die see, want die seevlakke gaan nóg hoër raak, sê Van Niekerk.

“Een van die grootste bedreigings vir kusgebiede is verhoogde seevlakke weens swelling as gevolg van hoër seetemperature en die ys wat op die koue kontinente smelt. Ons verwag dat dit oor die volgende 80 jaar (teen 2100) tot ’n halfmeter hoër sal wees en tydens springgety sal golwe die infrastruktuur naby die see oorstroom.”

Teen die middel-1900’s het die seevlakke meer gestyg as in die vorige twee millennia. In die tydperk 1901 tot 2012 het die gemiddelde seevlak wêreldwyd met byna 20 cm gestyg, vertel hy.

Dís waarom vleie belangrik is.

Vloede ná ’n droogteperiode (wat tradisioneel droogteverligting bring) is ’n kenmerk van die Baai en omstreke, maar ook dit sal verander. Van Niekerk sê die weermodelle wys dat vloede nie meer so gereeld sal voorkom nie, maar wanneer dit wel gebeur, sal dit erger wees as voorheen.

Die piek van berg Kilimandjaro (5 895 m bo seevlak) wat nie meer permanent met sneeu bedek is nie, is ’n goeie bewys hiervan.

“Dis nie net boere wat sal moet aanpas nie. Enige ontwikkeling in, of paaie deur vleilande sal gestaak moet word.

“Vleilande is nodig sodat reënwater stadig maar seker weer na die ondergrondse waterare kan deursyfer. Dis dus belangrik om vleilande te bewaar en beskadigde vleie te herstel,” waarsku Van Niekerk.

Vleilande dien ook as ’n spons tydens swaar reënval en help dus om oorstromings af te weer. Hoe minder vleilande, hoe meer intens die oorstromings. Dit dien ook as ’n waterspens wat weer handig te pas kom tydens droogtetye.

“Hoe meer vleilande opgeoffer word vir ontwikkeling, hoe meer sal die ondergrondse watervlakke daal en hoe warmer sal die grondtemperature word. Onthou: hoe meer paaie en geboue, hoe hoër die temperature.”

Vernietigde vleilande en plantegroei in opvangsgebiede, asook langs riviere en stroompies, veroorsaak ook dat stormwater vinniger beweeg, verder uitsprei en dus baie meer vloedskade aanrig.

In Kenia word “waterbuffergebiede” soos vleilande, opvangsgebiede en rivierbeddings só belangrik geag dat die behoud daarvan in die land se wetgewing opgeneem word. Landboubedrywighede en ontbossing word in sulke areas verbied.

The Conversationist en Defenceweb berig dat vloede in die hoofstad, Nairobi, geleë in die kom van die Nairobi-rivier, toeneem en daar dus reeds begin is om sowat 4 000 geboue, wat in waterbuffergebiede opgerig is, te sloop.

Mariska Spoormaker

Nader aan kusgebiede, ook hier in Suid-Afrika, is daar ook die gevaar dat soutwater die ondergrondse waterare kan begin vul omdat daar nie genoeg varswater is om dit uit te hou nie. Die meer gereelde droogtes wat voorspel word, beteken ook die kanse dat dié waterare wel weer deur reën aangevul kan word, raak ook al hoe skraler.

“Waar ons vroeër jare een droogte in tien jaar gehad het, sal dit nou meer gereeld voorkom,”sê Van Niekerk, “en dit sal langer duur.”

Die “goeie nuus” is dat dié klimaatsverandering nie in ’n oogwink sal geskied nie, maar volgens Van Niekerk sal dit geleidelik oor die volgende honderd jaar in dié rigting ontwikkel.

Dit gee genoeg tyd vir vandag se generasie om nie net self vir onvoorspelbare klimaattoestande aan te pas nie, maar ook om dit na die volgende geslag oor te dra, want in ’n warmer wêreld kan konflik oor water, kos en energie al hoe erger begin raak.

Bykomende bronne:

  • Climate change 2014 –Impacts, Adaptation and Vulnerability (IPCC Intergovernmental panel on climate change)
  • Climate change and Adaptation Strategies for the Eastern Cape (Hugh van Niekerk, prof. Hannes Rautenbach, dr. Mxolisi Shongwe)
  • The Conversation.com (Explainer: what’s driving the demolition of 4000 buildings in Nairobi)
  • Defenceweb.com
Meer oor:  Hugh Van Niekerk  |  Oos-Kaap  |  Weerdiens  |  Klimaat  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.