SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Omgewing
Maak só om indringer-akasias uit te roei – US-studie

Die algemene metode om die indringer akasiabome in Suid-Afrika uit te roei, is om hulle af te kap, op mekaar te stapel en dan aan die brand te steek.

Dr. Mlungele Nsikani van die Sentrum vir Indringerbiologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Dit kan egter ook ’n toename in die voorkoms van ander indringerspesies, wat nie geteiken is nie, tot gevolg hê – selfs drie jaar nadat die akasias in ’n spesifieke gebied uitgeroei is.

Dit is die bevinding van navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Nürtingen-Geislingen vir Toegepaste Wetenskap in Duitsland wat onlangs in die vaktydskrif South African Journal of Botany verskyn het.

Dr. Mlungele Nsikani, hoofnavorser van die studie en verbonde aan Sentrum vir Indringerbiologie aan die US, sê hulle het as deel van hul navorsing op ’n spesifieke groep indringer akasiabome, bekend as Acacia saligna (meer algemeen bekend as port jacksons) in die Kaapse Vlakte-sandfynbos en bergsandsteenfynbos gefokus. Dié indringerbome kom algemeen hier voor.

Die studie is gedoen by die Blaauwberg-natuurreservaat, asook by Glencairn aangesien die port jacksons in albei hierdie gebiede uitgeroei is en die natuur toe gelos is om vanself te herstel.

Die navorsers wou onder meer uitvind watter sekondêre indringerspesies in die gebied voorkom nadat die port jacksons uitgeroei is.

Nsikani sê sekondêre indringing kom voor wanneer primêre indringers, in hierdie geval akasias, uit ’n gebied verwyder is en ander indringerspesies dan daaruit voordeel trek en die gebied oorneem. Sekondêre indringerspesies kan in gebiede wat voorheen ingedring is, floreer omdat die uitroeiing van primêre indringers dikwels die ruimte skep vir hul aanwassing uit saadbanke wat in die grond opgehoop het, asook uit sade van omliggende gebiede.

Volgens Nsikani is daar 32 sekondêre indringerspesies opgeteken in die studiegebiede waar die port jacksons verwyder is. Die getal sekondêre indringerspesies hier is aansienlik meer as wat in vorige navorsingsprojekte opgeteken is. Hierdie spesies het grasse (22%), bossies (72%) en struike (6%) ingesluit.

In die bergsandsteenfynbos het die voorkoms van sekondêre indringers nie merkbaar verander in die jare ná die uitroeiing van die primêre indringers nie.

Nsikani sê die hoeveelheid sekondêre indringerspesies in die Kaapse Vlakte-sandfynbos het in die tweede jaar nadat die primêre indringers uitgeroei is aansienlik toegeneem met 64%, maar dit het nie daarna merkbaar verander nie.

In die bergsandsteenfynbos het die voorkoms van sekondêre indringers nie merkbaar verander in die jare ná die uitroeiing van die primêre indringers nie.

Nsikani sê bewaringsekoloë moet bewus wees van die hoeveelheid sekondêre indringerspesies wat hulle in hul navorsing opgeteken het, asook van die spesies wat dalk dominant en hardnekkig kan wees nadat die indringer-akasias uitgeroei is. Hulle moet ook ander maniere om dit te bestuur ondersoek.

Wenke:

- Wat die verwydering van indringer-akasias betref, is bevind dat die houtoorblyfsels eerder oor die gebied versprei moet word as dat die hout opeengestapel en verbrand word. Dit sal voorkom dat akasia-saadbanke in die grond opgegaar word.

- Om die groei van ’n tweede generasie van indringer-akasias te voorkom, kan die kiemplante wat ontkiem wanneer dit reën, met die hand uitgetrek, afgesny of met onkruiddoder beheer word. Hoewel bewaringsekoloë aangemoedig word om hierdie metodes te gebruik, erken Nsikani en sy medenavorsers egter dat sny, weiding en die gebruik van onkruiddoders ook die verlies van inheemse spesies in die gebied tot gevolg kan hê.

Bron:

Nsikani MM, Gaertner M, Kritzinger-Klopper S, Ngubane NP, Esler, KJ 2019. Secondary invasion after clearing invasive Acacia saligna in the South African fynbos. South African Journal of Botany 125: 280–289.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.