Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KYK: Wag op Cyril ná hutte wegspoel
Twee vroue loop Woensdag versigtig oor verspoelde plakkershuise in die informele nedersetting Eerste Fabriek in Mamelodi, Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Onder dreigende onweerswolke het groepies mense Woensdag in Mamelodi buite Pretoria in waterpoele in stilte gesoek na besittings om te red.

Swaar reën die naweek het veroorsaak dat die informele woongebied, Eerste Fabriek, in Mamelodi oorstroom het. Talle plakkershuise het weggespoel en mense moes van dakke af gered word.

“Ek huil saam met die mense hier,” het John Thapello (33) gesê terwyl hy op ’n droër stukkie grond gestaan het.

Hy het Woensdag sy beste vriend – wie se sinkhuisie weggespoel het – gehelp om van sy besittings terug te kry. Om Thapello was die modderige grond besaai met mense se persoonlike besittings en huisware.

’n Entjie verder het Josephine Masemola (34) met ’n mop gestaan en modder uit haar huisie gevee. Haar kinders het sy by die Mamelodi Baptistekerk in die sorg van ’n vriendin gelos.

“Ons moes van Maandag af daar slaap,” sê Masemola.

Twee inwoners van Eerste Fabriek, Mamelodi, kyk Woensdag na die verwoesting wat deur Maandag se vloede veroorsaak is.Foto: Deaan Vivier

Sy was Maandag by die werk toe sy ’n benoude oproep van haar kinders kry dat die huis oorstroom het.

Woensdag het sy en haar broer deur die huis gegaan en gekyk watter van die meubels gered kan word.

“Ek gaan nie weer terugkom om hier te bly nie. Dit wat met my gebeur het, was baie traumaties,” sê Masemola.

Haar buurman, Jan Nawe (35), sê hy het ’n groot gedruis gehoor. Toe hy massas water sien aankom, het hy sy 12-jarige kind gegryp en vir sy vrou, Junior Kekana (31), gesê hulle moet vlug.

Hy was een van talle inwoners wat ná 2017 se vloede noodgedwonge moes terugkeer na Eerste Fabriek.

“Maar dit was nie so erg soos nou se vloede nie,” sê Nawe.

Hy het ook sy sinkhuis geskuif en op bakstene gebou in die hoop dat as daar weer vloede is, die water nie deur sy huis sal gaan nie.

“Nou weet ek nie wat ek gaan maak nie,” het hy kopskuddend gesê terwyl hy na die stukkie grond gekyk het waar sy huis gestaan het.

David Makhura, premier van Gauteng, het Woensdag tydens sy besoek aan die omgewing gesê twee mense is in die vloede dood.

Inwoners van Eerste Fabriek, Mamelodi, soek na besittings wat hulle kan red. Dié informele nedersetting het Maandag oorstroom. Foto: Deaan Vivier

Sowat 1 300 mense is haweloos gelaat nadat honderde plakkershutte in die vloedwater meegesleur is.

Makhura het inwoners die versekering gegee dat daar nie gerus sal word voordat daar vir almal weer ’n heenkome gevind is nie.

Hy het onder meer die Stanza Bopape-gemeenskapsentrum en die Mamelodi Baptistekerk besoek, waar honderde mense tydelik gehuisves word.

By die Baptistekerk is ongeveer 490 mense tydelik gehuisves.

Hier het Odi Matsetela, een van die leiers van die Love of Christ Church, oorgestap om haar storie te deel.

Sy hou ’n ogie oor die nagenoeg 300 mense wat te midde van die vloede skuiling by haar kerk kom soek het.

“Ons het in Junie ons kerk vinnig klaar gebou nadat ons in ’n droom gewaarsku is dat mense binnekort in Eerste Fabriek omring sal word deur baie water en hulp sal benodig,” sê Matsetela.

Inwoners het Maandag na die kerk gevlug en is vandaar na die Baptistekerk geneem sodat hulle versorg kan word.

Volgens dr. Thembelani Jentile, kerkleier van die Baptistekerk, wil die mense nou eers met die president praat oor waar hul hervestig gaan word.

Pres. Cyril Ramaphosa kon weens sy vergadering met Eskom nie die omgewing besoek soos belowe nie.

’n Man skep ’n lampie uit die water. Hy is een van talle inwoners wat in Mamelodi haweloos is nadat Eerste Fabriek oorstroom het. Foto: Deaan Vivier

Inwoners by die kerk het aan Netwerk24 gesê hulle gaan nêrens alvorens hulle nie ’n onderneming van Ramaphosa het vir nuwe blyplek nie.

“Ons soek grond, hy moet ons kom help,” het Mapule Moeletsi (34) gesê.

Makhura het hierop gesê die Tshwane-metro sal haweloses help hervestig. Hy het gesê dit is belangrik dat die mense nie moet terugkeer na gebiede wat gereeld oorstroom nie.

“Gauteng word geraak deur die klimaatkrisis en dit is gevaarlik om sommer enige plek huis op te sit. Ons wil eerder hê dat mense veilig moet wees en wil saam met hulle werk om dit te verseker. Maar nou wil ons eers seker maak dat almal die hulp kry wat hulle nodig het,” het Makhura gesê.

Hulp van oral vir Mamelodi-inwoners

Abel Tau, waarnemende burgemeester van Tshwane, sê hy is opreg dankbaar vir skenkings wat van oral aangestuur is.

“Organisasies het met oorgawe gereageer op ons noodkreet en kos, klere en toiletware geskenk,” sê Tau.

Dr. Thembelani Jentile, predikant van die Mamelodi Baptistekerk, wat omskep is in ’n rampsentrum, sê die nood is nog groot.

Sy kerksaal bied sedert Maandag tydelike skuiling aan ongeveer 490 mense wat deur die vloede gestrand gelaat is.

“Dié mense het niks, net die klere aan hul lyf,” het Jentile gesê.

Hy sê daar is ’n groot behoefte aan vars groente en vrugte, asook sanitêre produkte.

John Thapello (links) het Woensdag sy vriend help soek na huisware in die vloedgeteisterde Mamelodi.Foto: Deaan Vivier
Skade in Eerste Fabriek, ’n informele nedersetting in Mamelodi, Pretoria. Foto: Deaan Vivier
Kinders speel Woensdag sokker in die Mamelodi Baptistekerk waar mense, wat deur Maandag se vloede geraak is, tydelik gehuisves word.Foto: Deaan Vivier
David Makhura, Gautengse premier, het Woensdag hawelose mense besoek in Mamelodi.Foto: Deaan Vivier
’n Hawelose gesin van Mamelodi het tydelik skuiling gevind in die Stanza Bopape-gemeenskapsaal. Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Mamelodi  |  Kitsvloede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.