Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Man van De Aar vereer vir herwinning

Eddie Kampher van die Angels Resource Centre in De Aar is die enigste Noord-Kaapse individu of organisasie wat vanjaar ’n Petco-prys, wat die plastiekherwinningsbedryf in Suid-Afrika verteenwoordig, verower het.

Eddie Kampher van die Angels Resource Centre in De Aar het ’n Petco-prys, wat die plastiekherwinningsbedryf in Suid-Afrika verteenwoordig, verower.

Die kompetisie word jaarliks vir individue en/of organisasies aangebied wat herwinning op voetsoolvlak beduidend bevorder.

Kampher is ’n bestuurder by die Angels Resource Centre, ’n niewinsgewende organisasie wat entrepreneurs en kleinsakeondernemings bystaan en kursusse aanbied. Die Angels Resource Centre het ook ’n kantoor en ’n geborgde voertuig waaruit kleinsake-eienaars hul administrasiedienste in De Aar, Hanover, Philipstown en Britstown kan doen.

Kampher en die Angels Resource Centre het die Petco-prys in die afdeling beste deurbraak in ’n gemeenskap gewen.

Dié wenner het luidens ’n nuusverklaring van Petco broodnodige inkomste, geleenthede, innovering en hoop in sy gemeenskap gebring. Sy stelsel kan boonop in ander gemeenskappe herhaal word.

Kampher het drie jaar gelede self onderrig by die Angels Resource Centre meegemaak. Die inhoud was daarop gemik om bestaansentrepreneurs te help om volhoubare ondernemings te skep.

Nadat hy sy kursus voltooi het, het Kampher ’n herwinningsaanleg in diens gestel waar werklose mense geleer is om rommel te sorteer, skoon te maak, te baal en selfs in kunswerke te omskep.

“Die besluit om in herwinning eerder as in ander bedrywe betrokke te raak, het natuurlik gekom omdat dit makliker as ooit is, hoewel dit meer werk verg weens wanopvattings oor herwinning,” sê Kampher.

Ons geniet wat ons doen. Ons leer mense van die soorte plastiek en hoe om tonne daarvan bymekaar te maak. Omdat plastiek lig is, is dit soms sieldodend om groot hoeveelhede te versamel.

Sowat 30 entrepreneurs wat met niks begin het, verdien nou ’n inkomste uit herwinning.

Met Kampher se stelsel kan werklose mense met min opleiding in die herwinnings-ekostelsel opgeneem word en geld verdien. Terselftertyd word die omgewing skoon gemaak.

“Ons geniet wat ons doen. Ons leer mense van die soorte plastiek en hoe om tonne daarvan bymekaar te maak. Omdat plastiek lig is, is dit soms sieldodend om groot hoeveelhede te versamel.

“Hoe meer ons die entrepreneurs ondersteun en motiveer, hoe omvangryker is die herwinning terwyl die omgewing skoner word.”

Kampher het met die samewerking van Mpact, Stridalong Recycling en Collect-a-Can Suid-Afrika daarin geslaag om toerusting en vervoer vir herwinning te verskaf. Die Philipstown-groep lewer maandeliks sowat agt ton gesorteerde herwinbare materiaal.

Hy voel geëerd oor die prys, maar sê hy ontvang dit namens ’n netwerk van mense en organisasies wat entrepreneurs se hande vat om hindernisse te oorkom.

“Ons werknemers beskou die prys as ’n vrug van ons arbeid en dit spoor ons aan. Die boodskap oor geleenthede in die herwinningsbedryf sal nou vinniger en wyer versprei.”

Meer oor:  De Aar  |  Noord-Kaap  |  Herwinning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.