Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Maravilhoso!’ Nuwe plant laat kurator op sy knieë neerval

Die ontdekking van ’n nuwe rare plantspesie in die |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark het ’n dankbare Pieter van Wyk, kwekery-kurator van Sanparke van dié park, op sy knieë laat neerval en “maravilhoso!” laat jubel.

Van Wyk het die plant, wat amptelik as deel van die genus Othonna geïdentifiseer is, op 25 September vanjaar teen ’n berg in die park ontdek.

Pieter van Wyk, die kwekery-kurator van die |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark, wat die nuwe spesie ‘Othonna’ ontdek het. Foto: Facebook

Die naam van die berg word om bewaringsdoeleindes weerhou.

Die genus Othonna is endemies aan Suider-Afrika en behoort aan die sonneblom-familie, Asteraceae, wat sowat 120 spesies insluit.

Die naam kom van die Griekse woord “othone”, wat “linnemateriaal” of “servet” beteken, en is aan die spesie vanweë sy donserige voorkoms gegee toe dit die eerste keer beskryf is.

Van Wyk sê die genus is oor die laaste eeu swak hersien, maar onlangs weer bestudeer. Die studies het daartoe gelei dat die genus in twee kategorieë, naamlik Othonna en Crassothonna, verdeel is.

Laasgenoemde word uitgeken aan die spesie se straalblommetjies en silindriese vetplantblare.

In die Richtersveld-bioom kom daar ongeveer 25 soorte van die spesie voor wat die nuwe ontdekking insluit.

Van Wyk sê anders as die meeste van Sanparke se nasionale parke is die hooffokus van die |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark nie diere nie, maar eerder die botaniese en kulturele landskap, sowel as die ryk geologie van die gebied.

Van Wyk se verantwoordelikhede as kurator van die kwekery is om ’n rekord van verskillende plantspesies te hou, ’n genebank op te bou en plante deur aanplanting te vermeerder.

Die nuwe plant wat aan die genus ‘Othonna’ behoort, is onlangs deur Pieter van Wyk, kwekery-kurator van die |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark, ontdek. Foto: Pieter van Wyk

Op 25 September het hy ’n berg aan die oostekant van die park gaan verken.

“Oor die laaste 18 jaar wat ek al plante in die Richtersveld bestudeer, het ek ’n aanvoeling ontwikkel vir waar ek nis-habitatte sal ontdek. Ek het geweet ek sou iets daar vind. Dit was net tydsberekening,” sê Van Wyk.

Hy het skaars 200 m geklim voordat hy drie nuwe verspreidings van endemiese plante aan die Richtersveld ontdek het.

“Ek het geen idee gehad die gebied sou so uniek wees nie.”

Hy het op ’n afstand ’n vetplant gesien wat soos ’n klein boompie gelyk het.

Die nuwe plant wat aan die genus ‘Othonna’ behoort, is onlangs deur Pieter van Wyk, kwekery-kurator van die |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark, ontdek. Foto: Pieter van Wyk

“Toe ek dit van nader bestudeer, het ek besef dit is deel van die spesie Othonna. Ná al my jare in die Richtersveld en die suide van Namibië waar ek meer as 11 000 eksemplare plantspesies versamel het, was dit die eerste keer dat ek op dié spesie afgekom het. Vir ’n oomblik het ek soos Friedrich Welwitsch gevoel toe hy die Welwitschia mirabilis ontdek het.”

Van Wyk kon sy geluk nie glo nie en het op sy knieë neergesak en geskree: “maravilhoso!”

Foto’s van die nuwe spesies is na Luvo Magoswana, wetenskaplike navorser van Sanbi by die Kirstenbosch-navorsingsentrum, gestuur.

Magoswana het bevestig dat die spesie wel nuut is.

Die grootte van die plant en die uiterse raarheid daarvan maak dit een van die grootste ontdekkings in dekades in die Noord-Kaap en ook die ariede parke van Sanparke.

Meer oor:  Sanparke  |  Omgewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.