Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Mariene-kenners sien rooi oor olie in Algoabaai
Een van die oliebesmeerde pikkewyne word Donderdag by die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls (Sankub) in Port Elizabeth gewas. Links is Zamokuhle Lazolam, Sankub Port Elizabeth se rehabilitasie-assistent, en regs staan Melissa Cadman, voël-rehabiliteerder van Sankub in Kaapstad. Foto: Verskaf

Brandstof-inskepings (waar brandstof van een skip na ’n ander oorgedra word) buite die hawe in Algoabaai is en sal altyd ’n bedreiging vir dié ekologies sensitiewe gebied inhou.

Só meen mariene-kenners in Port Elizabeth wat die afgelope week gal braak oor ’n oliestorting Saterdag naby die Ngqura-hawe, sowat 20 km noord van Port Elizabeth in die Oos-Kaap.

Lloyd Edward, mariene kenner en eienaar van Raggy Charters in Port Elizabeth, sê dit is die tweede oliestorting in drie jaar “en dit gaan beslis ook nie laaste wees nie”. Hy meen brandstof-inskepings ter see moet gestaak word totdat ’n behoorlike omgewingsimpakstudie gedoen is. ’n Oliestorting soos dié laat hom voel asof sy “27 jaar in omgewingsbewaring misluk het”.

Met die vorige oliestorting in 2016 het sowat 100 liter olie naby die hawe in die see gestort toe olie van die een skip na ’n ander gepomp is. Meer as 130 pikkewyne wat op die nabygeleë eilande broei, is met olie besmet.

Saterdagoggend omstreeks 04:40 is tussen 200 liter en 400 liter olie in die see gestort toe die Liberiese vragskip die Chrysanthi S met brandstof hervul is, het die departement van omgewingsake vroeër bevestig.

Kevin Kelly van Xtreme Projects is onmiddellik gekontrakteer om die oliebesoedeling op te ruim. ’n U-vormige vlotskerm word gebruik om die olie op die wateroppervlak bymekaar te maak voordat dit in tenks opgesuig word.

Volgens Kelly is die olie reeds Saterdag opgeruim. Hulle monitor steeds die eilande waar die pikkewyne broei, waaronder Bird-, St. Croix- en Jaheel-eiland en omstreke, vir enige teken van olie.

Vier uur se monitering met ’n hommeltuig het Woensdagmiddag en Donderdagoggend geen bewyse van olie om die eilande gevind nie, sê Kelly.

Pikkewyne gered

Tog werk Sanparke se mariene-veldwagters onverpoosd om oliebesmeerde pikkewyne op die eilande te red.

Donderdag is nog 29 volwasse pikkewyne, agt kuikens en een eier van die St. Croix-eiland verwyder, sê Fayroush Ludick, Sanpark-woordvoerder. Nog sewe volwasse pikkewyne is van Bird-eiland, ’n marienebewaringsgebied, gered.

Dit het die totaal van oliebesmeerde seediere teen Donderdagmiddag laat styg tot 84 pikkewyne, een malgas, ’n kormorant en twee pikkewyneiers. Daar is reeds bepaal dat die eiers nie sal uitbroei nie.

David Roberts, veearts van die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls (Sankub), sê as daar nog olie in die see dryf, kan dié syfer styg.

“Pikkewyne wat die eiland verlaat (om kos te soek) kan skoon wegswem, maar met hul terugkeer deur ’n oliekol swem en besmet word.”

Die soektog na oliebesmeerde pikkewyne sal minstens nog ’n week duur.

Volgens Roberts sal die grootste deel van die rehabilitasie-koste deur die versekeringsmaatskappy van die skip wat vir die storting verantwoordelik is, betaal word.

“Ons weet nog nie presies hoeveel voëls ons sal inkry nie, maar ons verwag die hele operasie sal ons tussen R1 miljoen en R2 miljoen kos.”

Die voorval word ondersoek

Intussen is ’n boete van sowat R350 000 reeds aan die eienaars van die vragskip opgelê. Daar is beslag op die skip gelê totdat die ondersoek afgehandel is.

Kapt. Nigel Campbell, voormalige streekbestuurder van die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa), wat verlede jaar ná 21 jaar by Samsa afgetree het en nou ’n adviseur vir Samsa se bedryfshoof is, sê ’n verdere boete kan volg, afhangende die uitkoms van die ondersoek.

’n Ondersoek sal ook na die brandstofskip gedoen word.

Daar is tans vyf brandstofskepe met permitte in die Baai.

Campbell sê ’n wanindruk bestaan dat skepe die hawens se brandstoftenk vermy om hawetariewe vry te spring. Hy sê brandstofskepe verskaf ’n ander soort brandstof as wat in Suid-Afrika se hawens beskikbaar is.

Brandstof-inskepings ter see word sedert 2016 in Algoabaai toegelaat. Volgens Campbell is ’n impakstudie gedoen en die betrokke rolspelers is geraadpleeg voordat hiermee begin is.

Maar dr. Lorien Pichegru, ’n mariene-bioloog verbonde aan die Nelson Mandela-Universiteit en ’n kenner van pikkewyne, sê geen omgewingsimpakstudie is gedoen nie.

Oliestortings is dodelik vir pikkewyne

Volgens Roberts bedek die olie pikkewyne se vere, wat hulle waterdigtheid belemmer. Sonder hul “waterdigte baadjie”, kry die pikkewyne uiters koud en dit kan hulle laat vrek.

Die olie vergif ook die pikkewyne wanneer hulle hulself probeer skoonmaak en gevolglik daarvan inkry.

“Bunkerskepe was ’n nuwe bedryf in Suid-Afrika, so dit was nie onder Nema (die Nasionale Omgewingsbewaringswet) gelys as ’n aktiwiteit waarvoor ’n omgewingsimpakstudie nodig is nie.”

Sy sê dit is ’n skuiwergat in die wet. Daar is wel tans ’n proses onderweg om dit onder Nema te lys.

Pichegru, wat ook die voorsitter van die Algoabaai Hope Spot is, het die oliestorting as ’n ramp bestempel, gegewe dat St. Croix-eiland die wêreld se grootste pikkewynbevolking bevat. “Hul getalle het oor die afgelope dekade met 90% afgeneem aan die Weskus. Ons het die laaste vesting van pikkewyne en malgasse in die wêreld in ons Baai.”

Pichegru meen veel strenger bedryfswette en minder brandstofskepe moet toegelaat word, maar sê die eerste prys is ’n totale verbod op brandstof-inskepings ter see.

Hoe word hulle skoongemaak?

Die skoonmaakproses kan stresvol wees en daarom word bloedtoetse geneem om te verseker die pikkewyne is sterk genoeg, sê Roberts. 

Eers daarna word hulle deur opgeleide personeel gewas, wat weet hoe om die dier vas te hou sonder om dit te beseer.

Gespesialiseerde skoonmaakmiddels word vir die was gebruik, waarna ’n deeglike afspoel en droogmaak volg.

Hierna begin ’n minimum van twee weke vir die rehabilitasie vir volwassenes, en ses weke vir kuikens. Eers wanneer die voëls sterk genoeg is, word hulle weer vrygelaat.

“Dit bring baie min werk in, is ’n hoë risiko vir langtermynomgewingskade en ons beeld vir skoon strande, asook ons ekotoerisme, en hulle voer brandstof in om belasting te ontduik. So daar is baie beperkte inspuitings vir ons plaaslike ekonomie.”

Ook dr. Greg Hofmeyr, ’n mariene-bioloog van die Bayworld-oseanarium in Port Elizabeth, meen brandstofskepe in Algoabaai is onvanpas weens die bedreiging wat dit inhou vir die mariene omgewing en ekonomiese aktiwiteite wat op die omgewing staatmaak.

“Al hierdie risiko’s, vir relatief min voordeel vir Port Elizabeth of Suid-Afrika.”

Mlungisi Mvoko, Oos-Kaapse LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme, het ’n beroep op al die betrokke reaksiespanne gedoen om hul soektog na ander besoedelde seevoëls en seediere te verskerp.

Ludick sê hul mariene-veldwagters sal nog tot Vrydag op St. Croix-eiland oornag om na oliebesmeerde pikkewyne te soek.

Nog die departement van omgewingsake, nog Samsa het teen Donderdagmiddag op navrae gereageer.

* Sankub het die gemeenskap gevra om enige beseerde of besmette seevoëls of karkas aan te meld deur hulle by 041 583 1830 te bel.

Meer oor:  Algoabaai  |  Mariene-Kenners  |  Pikkewyne  |  Olie  |  Brandstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.