Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Mikey, die pelsrob vrygelaat en op pad na sy tuiste

’n Antarktiese pelsrob wat sowat twee maande gelede honger en beseer na die Bayworld-Oseanarium in Port Elizabeth gebring is, is dié week vrygelaat.

Mikey, soos dié volwasse pelsrob genoem is na die man wat hom op ’n strand by Jeffreysbaai aangetref het, is maar die vyfde van dié robbe wat nog aan die Suid-Afrikaanse kus gered is.

Hy is in September met die hulp van Jeffreysbaai se Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) na die Bayworld-Oseanarium in Port Elizabeth geneem, waar hy tydelik versorg is.

Volgens dr. Greg Hofmeyr, ’n mariene bioloog verbonde aan die oseanarium, was Mikey uitgehonger en hy het ’n wond gehad aan sy regtervin, wat moontlik deur ’n haai veroorsaak is.

Ná net meer as twee maande se rehabilitasie was Mikey spekvet en gesond. Hy was teen Maandag gereed om die lang swemtog na die ysige eilande, wat op die naaste sowat 2 000 km na Marion-eiland is, aan te durf.

Mikey, ’n Antarktiese pelsrob, net voordat hy in die Agulhas-seestroom, sowat 60 km suid van Kaap Recife by Port Elizabeth vrygelaat is. Foto: Jake Keeton

Hy is met die plaaslike Raggy Charters-boot sowat 60 km suid van Kaap Recife die see ingeneem, waar hy in die koue Agulhas-seestroom vrygelaat is.

Bear, die eerste Antarktiese pelsrob wat aan die Suid-Afrikaanse kus uitgespoel het, is ook in 2016 daar vrygelaat.

Bear se swemtog was met ’n peperduur opsporingstoestel – wat op sy rug vasgeplak was en weer met sy verharing afgeskud is – nagespeur. Ná sowat vier maande het hy 10 000 km geswem en by die Suid Georgië-eiland net duskant die onderpunt van Suid-Amerika uitgekom.

Hofmeyr sê hulle Mikey se terugtog huis toe kan egter nie gevolg word nie, omdat hulle nie ’n opsporingstoestel beskikbaar het nie. Daar is wel ’n plastieketiket aan sy vin waaraan hy uitgeken kan word indien hy weer uitspoel of op een van die eilande gesien word.

Dit is nog onduidelik hoekom hierdie ongewone besoekers sedert 2016 al meer hier aangetref word. Die klimaatkrisis kan dalk ’n rol speel.

Volgens Hofmeyr moet heelwat navorsing nog daaroor gedoen word voor dit met sekerheid vasgestel kan word. Monsters is van die Antarktiese pelsrobbe geneem in die hoop om meer te leer van hul oorsprong, wat moontlik ’n leidraad kan verskaf oor wat hulle na Suid-Afrika dryf.

Benewens Mikey, is twee ander sub-Antarktiese pelsrobbe ook Maandag in die seestroom vrygelaat.

Peaches en Kuyabanda is onderskeidelik uit Durban en Gansbaai na Port Elizabeth vir vrylating geneem.

Volgens Hofmeyr is die Agulhas-seestroom een van die mees geskikte gebiede vir die robbe om na hul tuistes op koers te kom.

Hofmeyr vra strandgangers wat in Port Elizabeth en omstreke op ’n gestrande dier afkom, om hom nie te nader nie maar eerder Bayworld se noodlyn by 071 724 2122 te skakel.

Meer oor:  Antarktika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.