Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Milde reën laat damvlakke in Limpopo styg
Die Broederstroomrivier wat in die Ebenezerdam by Haenertsburg invloei. Foto: Facebook/Magoebaskloof

Limpopo se damvlakke het danksy die goeie reën wat geval het sedert verlede week met 4% gestyg.

Volgens die departement van waterwese se nuutste statistieke was Limpopo se damme Maandag 64,7% vol. Dit is ’n styging vanaf 60,3% verlede week.

Dit is veral die noordelike en oostelike dele van die provinsie wat die naweek goeie reën gekry het, nadat die tropiese sikloon Eloise Mosambiek getref het en toe na ’n laagdrukstelsel afgegradeer is wat oor Suid-Afrika beweeg het.

Verspreide donderbuie kom steeds plek-plek in die noorde, ooste en westelike Bosveld van Limpopo voor en die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel reën vir die res van die week.

Die Ebenezerdam by Haenertsburg, wat een van Polokwane se hoofwaterbronne is, se vlak het sedert verlede week se 26,2% tot 38,3% vandeesweek gestyg.

Groot gedeeltes van Polokwane is egter sedert die naweek sonder munisipale water weens ’n verskeidenheid probleme.

Thipa Selala, woordvoerder van die Polokwane-munisipaliteit, het Woensdag gesê die watervloei vanaf die Ebenezerdam is gestaak weens ’n pyp wat in die Mankweng-gebied gebars het.

Vroeër vandeesweek het kragonderbrekings weens die swaar reën in die gebied veroorsaak dat water nie na Polokwane gepomp kon word nie.

Die Lepelle Northern-waterraad sê daar is ook “uitdagings” om water vanaf die Olifantspoort-wateraanleg na Polokwane te pomp.

Modder in die water vanaf die Mohlaletserivier veroorsaak probleme by die waterpompe. Twee van die waterpompe by die Olifantspoort-wateraanleg kon sedert Maandag nie behoorlik water pomp nie.

Selala het gesê van Polokwane se reservoirs is dolleeg terwyl ander kritiek laag is.

Die Sterkrivier buite Mokopane in Limpopo vloei die eerste keer in jare. Foto: Verskaf

Die goeie reën in die Tzaneen-gebied het dié dorp se dam vanaf 21,7% verlede week tot 33,5%vandeesweek laat styg.

Inwoners van Mokopane is verheug oor die reën wat die bykans dolleë Doorndraaidam se vlak vanaf 7,5% verlede week tot 10,3% laat styg het.

Die dorp gaan die afgelope paar jaar gebuk onder erge watertekorte.

Van die damme in die noorde van Limpopo is tot oorlopens toe vol. Die Nandoni-dam buite Thohoyandou is 106,2% vol. Mense wat langs die Nandoni-dam bly, is Sondag die skrik op die lyf gejaag toe ’n krokodil uit die dam in die nabygeleë veld gespoel het.

Mbavhi Maliage, ’n meteoroloog wat by die SAUK werk, het ’n video op haar Facebook-blad gedeel wat inwoners aan haar gestuur het van ’n krokodil wat in gras langs die Nandoni-dam gesien kan word.

Die Nzhelele-dam is 104% vol.

Basikopo Makamu, LUR vir samewerkende regering in Limpopo, het Woensdag die Tshakhuma-gebied buite Louis Trichardt besoek waar talle huise die naweek deur swaar reën beskadig is.

Daar is 29 huise in Tshakhuma beskadig en inwoners moes Sondagoggend inderhaas uit hul verspoelde huise verwyder word.

Meer oor:  Tropiese Storm Eloise  |  Damvlakke  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.