Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Miljoene wil aarde uit nood red

Die klimaatstaking wat Donderdag wêreldwyd gehou word en waaraan miljoene mense gaan deelneem, is die grootste massabeweging in menseheugenis.

Die hoofdoel met die optogte is om “die einde van die era van fossielbrandstowwe” te eis, het Bill McKibben, stigter van 350.org, die internasionale organisasie wat hom vir klimaatgeregtigheid beywer, Woensdag in ’n verklaring gesê.

“Ons huis is aan die brand. Ons eis klimaatgeregtigheid vir almal.”

Die klimaataktivis Greta Thunberg.

Woensdag laatmiddag was die aanduiding dat 5 000 optogte in 137 lande gehou gaan word. Lede van 73 vakbonde en werknemers by meer as 1 000 maatskappye het geregistreer om aan die optogte deel te neem. Werknemers van 5 000 tegnologiemaatskappye, waaronder Facebook, Google en Amazon, asook van WordPress en tumbler, gaan aan die stakings deelneem.

In Suid-Afrika word optogte in 17 stede en dorpe gehou, naamlik in Johannesburg, Pretoria, Durban, Pietermaritzburg, Kaapstad, Graaff-Reinet, Knysna, Plettenbergbaai, Makhanda, Kenton-on-Sea, King William’s Town, Langebaan, Klerksdorp, Mount Frere, Rustenburg, Howick en Newcastle.

In Johannesburg sal lede van die Co-operative and Policy Alternative Centre (Copac) en sy vennoot, die South African Food Sovereignty Campaign, ’n menseketting om Sasol se hoofkantoor in Sandton vorm en dié petrochemiese reus vra om sy deure te sluit weens die besoedeling wat hy veroorsaak.

Alex Anderson, Sasol-woordvoerder, sê die maatskappy is oor die protesoptrede ingelig en ondersteun dit as mense wettig optree. Hy sê Sasol is daartoe verbind om na ’n laekoolstof-ekonomie oor te skakel.

In ’n optog na die Gautengse wetgewer in Johannesburg, onder die vaandel van Greenpeace, Earthlife Africa en 350Africa, sal ’n beroep op politici gedoen word dat die regering ’n “regverdige oorgang van fossielbrandstowwe na hernubare energiebronne maak”.

Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal van die vakverbond Saftu, het gesê hy gaan aan dié optog deelneem.

“Net in die afgelope jaar het ons die vernietigende impak van klimaatsverandering gesien. In KwaZulu-Natal het vloede huise en paaie weggespoel en is meer as 70 mense dood, byna 1 500 mense is dakloos gelaat en die skade word bereken op meer as R1 miljard,” sê Vavi op Twitter.

Greenpeace, onder wie se vaandel ’n optog in Durban gehou sal word, het Woensdag gesê die aarde verkeer in ’n noodtoestand.

“Die klimaatkrisis gaan oor die voortbestaan van ons planeet. Dié feit raak elkeen van ons, ons kinders en hul kinders. Ons kan nie menseregte op ’n dooie planeet hê nie.”

* In Durban word die optog gehou onder die vaandel van Extinction Rebellion, South African Youth Climate Coalition, Children of the Earth en Timberwatch. Greta Thunberg (16), ’n klimaataktivis van Swede, sal optoggangers in New York toespreek.

Intussen berig Financial Times politieke leiers van Suid-Afrika, Australië en Japan is nie genooi om op volgende week se klimaatberaad van die Verenigde Nasies in New York te praat nie omdat dié lande “verknog” is aan steenkool en ander fossielbrandstowwe.

Meer oor:  Greenpeace  |  Earthlife Africa  |  350Africa  |  Sasol  |  Copac  |  Klimaatsverandering  |  Optogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.