Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Minder renosters in 2020 gestroop

Renosterstropery het in die eerste ses maande van 2020 met 53% afgeneem met 166 diere wat sedert die begin van die jaar oor die land heen vir hul horings doodgemaak is.

In die eerste ses maande van 2019 is 316 renosters in Suid-Afrika gestroop.

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het Vrydag gesê ná ’n dekade van die implementering van verskeie strategieë en veldtogvoering teen die ewige toename in renosterstropery deur plaaslike stropers wat aangestel en bestuur word deur misdaadsindikate, werp pogings uiteindelik vrugte af.

“Ons kon die styging in renosterverliese beperk.”

Sy het gesê die afname is merkwaardig vergeleke met verlede jaar se syfers, danksy landwye wetstoepassingsmaatreëls weens Covid-19 wat beweging beperk het.

Dié afname in stropery is veral in die Krugerwildtuin verwelkom waar daar vir die eerste keer in tien jaar geen renosters doodgemaak is in April nie.

Tussen die begin van die inperking op 27 Maart tot die einde van Junie is 46 renosters oor die land heen gestroop. Veertien hiervan in April, 13 in Mei en 19 in Junie.

Daar is sedert verlede jaar ’n 53%-afname in renosterstropery landwyd. Foto: Die Burger Argief

Intussen het lt.genl. Mondli Zuma, polisiekommissaris in Mpumalanga, die veldwagters van die Krugerwildtuin geprys vir die inhegtenisneming van sewe verdagtes en die beslaglegging op onwettige goedere Donderdag.

Die veldwagters het die heining wat Suid-Afrika van Mosambiek skei, gepatrolleer.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, sê hulle het toe sowat 20 mans aan die Mosambiek-kant gewaar waar hulle die park binnegedring het.

“Dié mans het begin hardloop toe die veldwagters hulle probeer aankeer.”

Sewe is gevang, terwyl die ander gevlug het.

Die mans het onwettige sigarette, drank asook verbleikingsrome in swart plastiek by hulle gehad. Die waarde van die produkte word geskat teen sowat R78 000.

Die polisie is in kennis gestel en die mans is in hegtenis geneem, onder meer weens die besit van onwettige sigarette, drank, onwettige immigrasie asook onregmatige betreding.

Die mans sal Maandag in die landdroshof op Bushbuckridge verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.