Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Minder walvisse langs SA kus weens klimaat – opname

Die tweede laagste getal walvisse in 32 jaar is vanjaar aan die kuslyn tussen Nature’s Valley en Muizenberg getel.

Die tellery is deel van ’n jaarlikse opname wat van 27 tot 29 September deur die Universiteit van Pretoria (UP) se soogdier-navorsingsinstituut onderneem is.

’n Airbus-helikopter is vir die tellery ingespan.

Die opname is oor drie dae, 12 uur en 42 minute se vliegtyd voltooi. Dit is die 41ste opname wat gedoen is.

Volgens die navorsers is 136 suidelike noorkapper-koeie en -kalfies (68 pare) getel en gefotografeer, asook 29 volwasse walvisse sonder kalfies. Daar is ook 165 suidelike noorkappers tussen Nature’s Valley en Muizenberg getel. Die meeste koeie en kalfies is opgemerk aan die De Hoop-natuurreservaat en Walkerbaai.

’n Suidelike noorkapper-walvis en haar kalf in die kuswaters tussen Nature’s Valley en Muizenberg. Foto: Verskaf

Die navorsers sê die jongste getalle is die tweede laagste langs die kus in die ooreenstemmende tyd van die opname in 32 jaar. (In 2015 is 55 pare getel). Die getal is ook ’n klein bietjie minder as die 142 koeie met kalfies (71 pare) wat vanjaar aan die einde van Augustus tussen Hermanus en Witsand getel is. Dit dui daarop dat koeie minder tyd in Suid-Afrikaanse kuswaters deurbring om te broei. Dit kan moontlik ’n negatiewe impak hê op hul kalfies se oorlewing.

Ook die getal enkele volwassenes is steeds laag, soos sedert 2009 die geval is. Dit dui daarop dat suidelike noorkappers wat nie kalf nie, steeds nie na Suid-Afrika migreer nie, soos wat wel voor 2009 die geval was.

Die navorsers sê om suksesvol te kalf en te migreer moet suidelike noorkappers oor ’n goeie liggaamstoestand (walvisspek, oftewel vet) en energiereserwes beskik. Dit hou direk verband met hoe goed hulle vreet.

Daar word geglo dat die walvisse se voorkoms langs die Suid-Afrikaanse kus met klimaatsveranderings in die oseaan en wisselings in die beskikbaarheid van voedsel verband hou.

Data wys dat die Suid-Afrikaanse noorkappers die afgelope 20 jaar die plekke waar hulle wy, drasties aangepas het. Dit dui daarop dat die plekke waar hulle vantevore kos gekry het met tyd verander het.

Volgens die navorsers dui die bevindinge op grootskaalse veranderings in die ekostelsels in die oseaan om Suid-Afrika, en het dit waarskynlik ’n impak op verskeie roofdiere in die see.

Die data wys ook dat die verandering in voedingsplekke dalk ’n poging van die walvisse is om by te hou met veranderings in die see, maar dat die veranderings dalk nie voldoende is vir hulle om die hul kondisie te behou nie. Dit het weer ’n negatiewe impak op walvisse wat kalf en hul migrasie.

Hommeltuie word gebruik vir ’n verdere ondersoek na die walvisse se voedingstoestand, en deur hormoonvlakke in walvisspek te ontleed.

Die uitslag van die navorsing behoort die einde van die jaar beskikbaar te wees.

Vir meer inligting besoek die Facebook-blad.

Meer oor:  Helikopter  |  Walvisse  |  Klimaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.