Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Minister help skoonmaak in Mamelodi

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het Woensdagoggend in Mamelodi, oos van Pretoria, ingespring en gehelp om ’n sokkerveld skoon te maak.

Creecy, geklee in ’n groen oorpak, het ter viering van Wêreldomgewingsdag ook gehelp om sowat 120 bome om die sokkerveld te plant.

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, tel Woensdagoggend rommel op in Mamelodi, oos van Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Dié sokkerveld was ’n stortingsterrein en die bome is geplant om mense te keer wat steeds vullis hier stort.

Creecy het saam met vrywilligers tientalle plastieksakke vol rommel op en om die veld opgetel.

“Daar word wêreldwyd gesê dat diegene wat in arm en werkersklasgemeenskappe woon, die meeste deur swak omgewingsbestuur geraak word. Suid-Afrika is ongelukkig geen uitsondering nie,” het Creecy gesê.

Volgens haar het vullisverwydering in die land oor die afgelope 20 jaar verbeter en sowat 80% van huishoudings het tans toegang tot dié diens.

“Maar dit is steeds oneweredig versprei, en ons sien in verskeie gemeenskappe, veral in die informele nedersettings, dat vullis nie weekliks verwyder word nie. Mense word dus gedwing om op informele maniere, soos onwettige storting, van vullis ontslae te raak.”

Wêreldomgewingsdag word jaarliks op 5 Junie gevier en vanjaar is die tema lugbesoedeling.

“Die tema is gekies omdat sowat 7 miljoen mense jaarliks voortydig doodgaan weens lugbesoedeling,” lui ’n verklaring wat deur Creecy se departement uitgereik is.

’n Skoonmaaksessie is in Mamelodi gehou ter viering van Wêreldomgewingsdag Woensdag. Foto: Deaan Vivier
Die minister en ander vrywilligers het tientalle sakke vol rommel en vullis opgetel. Foto: Deaan Vivier

Luidens die verklaring het navorsing getoon dat 92% van mense oor die wêreld heen nie skoon lug inasem nie.

Lugbesoedeling kos boonop die wêreldekonomie jaarliks sowat $5 000 miljard in maatskaplike toelae.

“Vullis dra by tot lugbesoedeling deurdat gifstowwe soos koolstofdioksied en metaangas daardeur vrygestel word,” lui die verklaring.

Meer oor:  Barbara Creecy  |  Pretoria  |  Mamelodi  |  Skoonmaak  |  Rommel  |  Besoedeling  |  Vullis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.