Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Minister sê nee vir skaliegas-besware

Altesaam 39 besware oor die moontlike ontginning van skaliegas in dele van Suid-Afrika is Vrydag deur Derek Hanekom, waarnemende minister van omgewingsake, van die hand gewys.

Agri SA is een van dié wat beswaar aangeteken het teen die omgewingsmagtiging wat deur die departement van minerale bronne aan Rhino Oil & Gas toegestaan is vir die eksplorasie van olie en gas in dele van Noordwes, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.

Die eksplorasieregte geld vir ’n gebied van ongeveer 2,4 miljoen hektaar. Daar word gevrees dat die toestaan van die eksplorasieregte kan lei tot grootskaalse hidrobreking om skaliegas te ontgin.

Janse Rabie, Agri SA se hoof van natuurlike hulpbronne, sê die organisasie gaan hom tot die hof wend sodat die besluit hersien kan word. Ander organisasies wat ook beswaar gemaak het, kan betrek word by die aansoek.

Die redes wat deur die minister gegee word vir sy besluit word deur Agri SA ondersoek.

Derek Hanekom. Foto: JACO MARAIS

“Hanekom se besluit is baie teleurstellend, veral in die lig van die vroeëre hofbeslissing in die Oos-Kaap,” sê Rabie.

Regter Gerald Bloem het in Oktober in die hooggeregshof in Grahamstad beslis dat die regulasies wat deur die destydse minister van minerale bronne, Mosebenzi Zwane, aangekondig is om hidrobreking te reguleer, tersyde gestel word.

Die saak is na die minister se kantoor terugverwys vir heroorweging, onder meer omdat insae deur die minister van omgewingsake ook gelewer moet word. Zwane het teen die uitspraak appèl aangeteken.

Volgens Rabie is daar steeds onsekerheid oor waar die water vandaan gaan kom om al die hidrobreking te laat plaasvind. Dit laat ook kommer ontstaan oor voedselsekuriteit.

“Die eksplorasieregte sal nie noodwendig hidrobreking tot gevolg hê nie, maar die huidige regulasies wat olie- en gas-ontwikkeling in Suid-Afrika beheer, gee aan die houer van ’n eksplorasiereg die eksklusiewe reg om aansoek te doen vir produksieregte wat wel tot hidrobreking kan lei.

“As die hek eers oop is, sal dit moeilik toegemaak kan word.”

Meer oor:  Derek Hanekom  |  Skaliegas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.