Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Moontlike El Niño ‘gaan SA hard slaan in somer’
Foto ter illustrasie

’n Droogte en uitermatige hoë temperature is vanaf Desember tot aan die einde van die somer dalk die voorland van inwoners in Suid-Afrika se somerreënvalstreek.

Cobus Olivier, wetenskaplike gemoeid met voorspellings by die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), het Donderdag gesê ’n El Niño is besig om in die Stille Oseaan, wes van Suid-Amerika, naby die ewenaar te ontwikkel.

In hierdie stadium is daar nog onsekerheid, maar die kanse is redelik goed dat dit ’n El Niño-jaar vir Suid-Afrika gaan wees.

Volgens Olivier beteken dit gewoonlik dat die somer droog en baie warm gaan wees.

Olivier het gesê die kanse is goed dat bogemiddelde lentereën aan die oostelike kus van Suid-Afrika gaan val.

In die tweede helfte van die somer gaan daar waarskynlik ’n drastiese afname in reënval wees en temperature gaan moontlik dramaties styg.

Die International Research Institute for Climate Prediction (IRI) het Donderdag gesê Suid-Afrika word gewoonlik “hard geslaan” tydens El Niño-jare.

Die Amerikaanse oseaniese en atmosferiese administrasie (NOAA) het die afgelope twee maande El Niño-waarskuwings uitgereik. Volgens dié waarskuwings wil dit voorkom asof alle omstandighede gunstig is vir ’n El Niño om vanjaar te ontwikkel.

Volgens die IRI het die Suid-Afrikaanse binneland in die middel van die winter redelike buitengewone weerverskynsels soos reën en hael ervaar.

Hoewel die Wes-Kaap en Kaapstad welkome reën gekry het, is dit nie naastenby genoeg om dié provinsie uit sy waternood te help nie. Die IRI wys daarop dat die winterreënseisoen vir die Wes-Kaap besig is om sy einde te nader.

Olivier het gesê Julie was tot dusver nie ’n baie goeie maand vir die Wes-Kaap nie. Goeie neerslae word egter vir volgende week verwag.

Volgens Olivier sal die volgende klimaatvoorspelling wat einde Augustus deur die SAWD uitgereik word, met groter sekerheid kan aandui of ’n El Niño-jaar vir Suid-Afrika voorlê. Dit sal veral die verre noordelike dele van die land en groot dele van Noordwes wees wat erg gebuk sal gaan onder hoër as normale somertemperature.

Klimatoloë het gesê dit is nou die tyd dat Suid-Afrikaners moet begin om water te spaar. ’n Droogte hierdie somer kan verreikende gevolge vir die land inhou.

“Mense sal nou waterpype moet herstel sodat niks vermors word as ’n droogte en die hitte Suid-Afrika se binneland tref nie.”

Meer oor:  Sa  |  El Niño
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.