Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Mufasa is nog vol 'brul’ ná sy omswerwinge
’n Verdoofde Mufasa by die polisiekantoor in Sutherland. Foto: Sanparke

Mufasa, die rekord-breker-leeu van die Karoo-Nasionale Park naby Beaufort-Wes, is gesond en sy toestand “uitstekend” nadat hy bykans ’n maand lank op vrye voet was.

Hy het op 15 Februarie onderdeur ’n heining in die park gekruip en 27 dae lank die wye Karoo-vlaktes ingevaar.

Hy was langer weg as sy voorganger, Sylvester, wat in 2015 ’n soekgeselskap 24 dae lank ontwyk het.

Mufasa word Donderdagoggend van Sutherland na Beaufort-Wes vervoer. Foto: Verskaf

Mufasa is Woensdag op ’n plaas in die Sutherland-omgewing in die Noord-Kaap uit ’n helikopter met ’n pylgeweer verdoof. Hy het die nag tot groot vermaak van die inwoners in Sutherland se polisieselle geslaap. Donderdag is hy na die park teruggeneem.

“Die koste van die soektog is nog nie bereken nie,” het Fayroush Ludick, ’n woordvoerder van Sanparke, by navraag gesê.

Intussen blyk die gerugte dat Mufasa ereburgerskap van Beaufort-Wes se munisipaliteit gaan kry, ongegrond te wees.
Sanparke se span spoorsnyers wat na die leeu gesoek het. Foto: Sanparke
Die Sanparke-soekgeselskap by die helikopter wat ingespan is om Mufasa te verdoof. Foto: Sanparke

In sy omswerwinge het Mufasa onder meer ’n eland, asook talle skape en bokke platgetrek. “Dit is Sanparke se beleid om vir die verliese te vergoed, maar elke geval word individueel ondersoek,” sê Rey Thakhuli van Sanparke.

Nico van der Walt, bestuurder van die Karoo-Nasionale Park, het Donderdag in ’n verklaring gesê die leeu “is in ’n uitstekende toestand”.

“Hy lyk baie gesond en word tans terug na die park vervoer.”

Volgens Van der Walt was die soektog veeleisend vir die soekgeselskap. Hy het hulle geprys en gesê hulle het vasgebyt ondanks die wisselvallige weersomstandighede en die nagte se slaap in die veld.

Woensdagmiddag het die spoorsnyers op vars spore afgekom en dit gevolg totdat die leeu laatmiddag uit ’n bos gestorm het. ’n Sanparke-helikopter is ontbied en die leeu is omstreeks 18:00 in die berge verdoof.

Daar moes egter vinnig plan gemaak word omdat dit besig was om donker te word. “Gelukkig het die polisie in Sutherland ’n sel vir die leeu beskikbaar gestel totdat ’n krat Donderdagoggend van die Addo-Olifant Nasionale Park gekom het,” sê Van der Walt.

Intussen blyk die gerugte dat Mufasa ereburgerskap van Beaufort-Wes se munisipaliteit gaan kry, ongegrond te wees.

“Nee, dis nie so nie,” het Noel Constable, Beaufort-Wes se burgemeester, by navraag gesê en gelag. “Dis nie ’n munisipale aangeleentheid nie.”

Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van Sanparke, het die landbougemeenskap van die Noord- en Wes-Kaap bedank vir die inligting oor en die identifikasie van die leeu se spore. Hy het ook die Bidvest Protea Coin-veiligheidsmaatskappy van Centurion bedank wat na die leeu gehelp soek het.

Meer oor:  Sutherland  |  Mufasa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.