Mufasa, die rondloperleeu van die Karoo Nasionale Park naby Beaufort-Wes, se lot is nog onbekend.

Mufasa vroeër by die polisiekantoor in Sutherland.
Netwerk24
Nog geen besluit is oor sy moontlike verskuiwing geneem nie, sê Fayroush Ludick, woordvoerder van Sanparke.
Mufasa het op 15 Februarie onderdeur ’n heining gekruip en was 27 dae lank op vrye voet. Hy is op 13 Maart in die Sutherland-omgewing in die Noord-Kaap met ’n pylgeweer vanuit ’n helikopter verdoof. Hy het die nag in Sutherland se polisieselle geslaap en is die volgende dag na die park teruggeneem.
Sanparke het vroeër gesê die leeu gaan waarskynlik verskuif word. ’n Paar opsies word oorweeg, maar ’n besluit moet nog geneem word. Die leeu word nog in ’n boma by die park aangehou.
Mufasa se voorganger, Sylvester, het in 2015 self 24 dae lank ’n soekgeselskap ontwyk. Ná sy tweede ontsnapping in 2016 het hy ’n nuwe tuiste in die Addo-olifantpark gekry.