Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Myn begin sommer paaie op plaas bou’

Die DA wil hê die regering moet ingryp op die plaas Boschmanspoort in Mpumalanga waar ’n mynmaatskappy die eienaar se grond onwettig afgekamp en steenkool in ’n vlei begin myn het.

Die myn het ook ’n deel van die Klein-Olifantsrivier verlê.

Annerie Weber, DA-LP, het Donderdag gesê die polisie het tot dusver niks gedoen om teen die mynhuis op te tree nie ondanks die klagtes van betreding wat aanhangig gemaak is.

Die DA sal eers by die provinsiale kantoor van die departement van minerale bronne en energie in Witbank aanklop en vra dat hulle help, sê sy.

“As ons geen reaksie van hulle kry nie, sal ons vir Barbara Creecy, minister van omgewingsake, visserye en bosbou, vra om in te gryp.”

Weber sê talle oortredings is ter sprake. “Die belangrikste is dat die mynhuis ’n vlei uitmyn.”

Sy het verneem die departement van water en sanitasie is glo van plan om ’n aanmaning aan die direkteure van die mynhuis te stuur vir die onwettige gebruik van water.

Stinus Breedt, die eienaar van Boschmanspoort, het luidens ’n DA-verklaring aan Weber gesê hy het op ’n dag op sy plaas aangekom en gevind die myn het die ingang afgesper en paaie begin bou. Hy sê die mynmaatskappy het wel die reg om op ’n ander deel van sy plaas te myn, maar nie dié spesifieke deel nie.

Inwoners sê mynoperateurs het onlangs ’n senior ANC-lid op Breedt se plaas as gas verwelkom. Die vermoede bestaan dat dié persoon ’n begunstigde van die myn is en dít word nou as ’n moontlike rede aangevoer vir die polisie se traagheid om op te tree.

Weber beweer die myn het nie ’n waterlisensie nie. Volgens haar is daar ook inligting op die mynpermit wat “in verskeie opsigte vals is”.

Die permit is uitgereik deur die departement van minerale bronne se kantoor in eMalaheni, wat maande gelede weens korrupsie gesluit is.

Intussen het Breedt die hof in Middelburg genader om ’n dringende interdik te kry om die mynbedrywighede stop te sit en die operateurs opdrag te gee om die grond te rehabiliteer.

Die landdros het egter geweier om die saak aan te hoor omdat hy dit nie as dringend beskou het nie. ’n Hofdatum sal aanstaande jaar vasgestel word.

“Dit beteken dus nou die onwettige mynbedrywighede kan voortgaan, terwyl landbougrond en ’n vlei vernietig word en die opvangsgebied van Middelburg (die Klein-Olifantsrivier) se water besoedel word.

“Die feit dat mense net op private eiendom kan kom en begin myn sonder om eers die eienaar in kennis te stel, is ’n skrikwekkende teken van hoe kwesbaar eiendomsreg in Suid-Afrika geword het,” het Weber gesê.

Meer oor:  Annerie Weber  |  Mpumalanga  |  Boschmanspoort  |  Paaie  |  Plaas  |  Mynbou  |  Omgewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.